On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Health

Noodsaaklik inligting: Weet jy wat om te doen indien jy eerste op ’n padongeluk afkom?

───   13:57 Thu, 21 Aug 2025

Noodsaaklik inligting: Weet jy wat om te doen indien jy eerste op ’n padongeluk afkom? | News Article
Margaret Whitfield, Herman Groenewald, Juan Glover en Shandor Potgieter by die OFM-ateljee. Foto: OFM

’n Ongelukstoneel op pad tussen Port Elizabeth en Bloemfontein het Lara Rossouw van Bloemfontein vandeesweek laat besef hoe onvoorbereid die meeste padgebruikers is vir sulke noodgevalle.

Sy vertel aan OFM Good Morning Breakfast hoe sy onlangs terug Bloemfontein toe gery het toe sy onverwags op twee voertuie afgekom het wat in ’n trompop-botsing betrokke was. “Ek was letterlik die eerste een wat daar aangekom het. 

“Daar was rook en stoom uit die karre, en my eerste gedagte was dat hulle enige oomblik kan ontplof.”

Rossouw het geen selfoonontvangs gehad nie en kon dus nie hulp ontbied of selfs haar ligging deurstuur nie. “Daai gevoel van alleen verantwoordelik wees – en eintlik niks weet nie – was oorweldigend. 

“Ek kon nie bel nie, ek kon nie my presiese plek bepaal nie, en ek het nie geweet wat om te doen nie.”

Sy beskryf hoe sy eers huiwerig was om die voertuie te nader, uit vrees dat dit sou ontplof. Gelukkig het ander mense kort daarna opgedaag wat geweet het hoe om te help. 

‘As dit weer gebeur, wat sou ek anders gedoen het’

Tog het die ervaring haar laat nadink. “Toe ek wegry, het ek myself die hele tyd afgevra: as dit weer gebeur, wat sou ek anders gedoen het? En ek het steeds nie ’n antwoord nie.”

Wat haar die meeste getref het, was hoe min mense regtig voorbereid is. 

“Ek ry elke dag op die pad – maar ek het besef ek weet nie wat om in só ’n situasie te doen nie. En toe dink ek verder: selfs al was ek nie alleen nie, sou ons waarskynlik ’n klomp mense gewees het wat ook nie geweet het nie.”

OFM-omroepers Shandor Potgieter en Margaret Whitfield het by paramedici gaan aanklop om te hoor wat die korrekte prosedure sou wees indien padgebruikers op ’n noodtoneel afkom. 

Hulle gesels met Juan Glover en Herman Groenewald wat deel is Life EMS by Life Roseparkhospitaal in Bloemfontein, met ’n gesamentlike 50 jaar ervaring tussen hulle.

Wat om te doen as jy eerste by ’n ongelukstoneel opdaag

Wanneer jy eerste by ’n ongelukstoneel opdaag, kan jou kalm optrede lewens red. Noodpersoneel beklemtoon dat jy nie medies opgelei hoef te wees om te help nie – jy moet net weet wat om te doen, en wat nie.

Eerstens:

  • Bly kalm en oriënteer jouself. Haal asem, kyk wat aangaan en bepaal of daar gevaar is soos vuur, brandstoflekkasies of druk verkeer. Moenie nader gaan as dit onveilig is nie.
  • Maak die toneel so veilig as moontlik. Parkeer jou kar só dat dit aankomende verkeer afkeer, sit jou waarskuwingsligte aan en plaas ’n driehoek ’n ent weg om ander te waarsku.
  • Skakel onmiddellik vir hulp. Bel die noodnommer 112 (as daar selfoonsein is) of Life EMS by 0860 123 367. Verskaf jou naam en ’n terugbelnommer, presiese ligging, wat gebeur het, hoeveel mense beseer is en enige onmiddellike gevare. Hoe meer besonderhede jy gee, hoe beter kan die spanne voorberei.
  • Troos die beseerdes en stel hulle gerus. Praat met hulle, sê vir hulle hulp is op pad, hou hulle warm en bly naby sodat hulle nie verlate voel nie.
  • Help noodspanne sodra hulle opdaag. Wys vir hulle die presiese plek, verduidelik wat jy gesien en gedoen het en gee enige nuttige inligting – soos die veranderinge in iemand se toestand of bekende mediese probleme.

Moenies:

  • Moenie jouself in gevaar stel nie – jy help niemand as jy self beseer word nie.
  • Moenie mense onnodig skuif nie, behalwe as daar ’n onmiddellike gevaar is soos vuur.
  • Moenie aan hulle kos of water gee nie en moenie motorfietsryers se helms verwyder nie, tensy hul asemhaling in gedrang is.
  • Moenie ’n klomp mense op die toneel toelaat nie – beheer nuuskieriges sodat paramedici hul werk kan doen.
  • Moenie foto’s of video’s neem nie – respekteer die privaatheid van die beseerdes.
  • Moenie eerstehulp probeer toepas wat jy nie ken nie. Jy kan egter vra of iemand anders kundigheid het.

As daar geen selfoonsein is nie:

  • Daar is ’n algemene wanpersepsie dat 112 altyd werk. Dit is nie waar as jy heeltemal buite selfoondekking is nie – jy het wel ’n GSM-sein nodig.
  • Reël vooruit: sê vir iemand wat jou beplande roete en verwagte aankomstyd is.
  • Oorweeg ’n satellietkommunikeerder as jy gereeld afgeleë roetes ry.
  • Dra eenvoudige noodhulpmiddels soos ’n fluitjie, ligfakkel (flare) of ’n flits om aandag mee te trek.
  • Indien nodig, ry tot waar jy weer sein kry, ontbied hulp, en keer terug.

Hoe om jou ligging te beskryf:

  • Op hoofweë gebruik die blou roetemerkerborde: roetenommer, seksie, kilometer en rigting (bv. “N3 noord, km 10, seksie 10”).
  • As jy nie op ’n hoofweg is nie, beskryf landmerke soos brûe, plaashekke, kruispaaie of afstand vanaf ’n dorp.
  • Gebruik rigtings (noord, suid, ens.) en omgewingskenmerke. Nuwe selfone kan ook GPS-koördinate gee.

Voorbeeld van ’n blou roetemerkerbord. Foto: Facebook

Hou ’n brandblusser in jou motor:

Kenners raai elke bestuurder aan om ’n 1–1,5 kg ABC-droogpoeier brandblusser in die motor te hou – SABS-goedgekeur en maklik om te gebruik. Plaas dit binne bereik, soos onder die sitplek of in die kattebak. 

Mik altyd na die basis van die vlam, hou ’n veilige afstand en gebruik dit net as dit werklik veilig is.

Stoor jou mediese inligting:

Slimfone het ’n “Medical ID” of “In Case of Emergency”-funksie wat selfs vanaf die sluitskerm toegang bied. Stel dit op met jou allergieë, medikasie, bloedgroep en noodkontakte. 

Dit help paramedici om jou vinniger en veiliger te behandel indien jy self nie kan praat nie.

Noodnommers:

Vir 24-uur mediese noodreaksie kan Life EMS geskakel word by 0860 123 367.

OFM EBK(compiled)/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.