Health
Kanker Kryger: Magda Jacobs se 25 jaar lange reis van kanker na hoop─── 08:00 Thu, 08 Oct 2026
Kankeroorlewendes is dikwels bakens van hoop, moed en vasberadenheid vir ander by wie kanker gediagnoseer is.
Een van Suid-Afrika se Kansa Global Heroes of Hope het dié boodskap van hoop op ’n besonderse manier verder geneem. Sy het haar eie kankerervaring in musiek omskep.
Magda Jacobs sluit hierdie Pinktober by Yolanda Maartens aan om terug te kyk op haar reis en te vertel waarom sy ná 25 jaar steeds met soveel passie haar storie deel.
Haar ervaring het uiteindelik geboorte gegee aan Kanker Kryger – ’n lied wat oorspronklik as ’n gedig ontstaan het. Sy het die gedig jare gelede vir Kansa Rustenburg se Relay For Life geskryf waarna dit ook in haar bundel Brose Genade gepubliseer is.

Magda Jacobs. Foto verskaf
In Julie 2025 het Magda besluit om die gedig ’n nuwe stem te gee en dit as ’n lied op te neem. Die lied het later besondere erkenning ontvang toe sy wat onder die verhoognaam Ladie Lark optree, die Inspirational Song – Original Afrikaans Gospel Female-toekenning tydens die South African Country Music Association/Foundation in Oktober 2025 gewen het.
Kanker Kryger vertel van die vrees en onsekerheid wat met ’n kankerdiagnose gepaardgaan, maar ook van die hoop wat selfs in die donkerste oomblikke kan ontstaan. Die lied se boodskap is ’n mens se storie is nie noodwendig verby wanneer kanker jou lewe binnekom nie.

As ’n Kansa Global Hero of Hope gebruik sy haar verhaal om kankeroorlewendes aan te moedig en bewusmaking rondom Kansa en Relay For Life te ondersteun. Haar getuienis wys hoe ’n persoonlike stryd met tyd kan verander in iets wat ander mense moed gee.
In haar lied herinner sy almal “selfs wanneer dit voel asof jy aan die einde van jou tou is, kan daar steeds ’n ekstra knoop wees – ’n rede om aan te hou hoop”.
Luister die lied hier.
OFM dg
