Inspiration
Mej. Rolstoel sê visa-struikelblok is geen stok in haar planne─── 08:53 Wed, 28 Sep 2022
Suid-Afrika se eerste Mej. Rolstoel, Tamelyn Bock van Springbok in die Noord-Kaap, se struikelblokke wil maar net nie wyk nie.
Sy staan op die vooraand van die Mej. Rolstoel-wêreldkompetisie in Mexico, maar moes Maandag verneem dat haar assistent se visum geweier is.
Sy en haar verloofde, Edmund Balie, wat ook haar assistent is, en een van die organiseerders van Mej. Rolstoel SA was Maandag by die Amerikaanse ambassade in Kaapstad om die paartjie se visums af te handel.
Sy het teleurgesteld gesê: "Nadat die ambassadepersoneel met my ‘n onderhoud gevoer het, is my visum goedgekeur. Daar is nie eens ‘n onderhoud met Eddie gevoer nie, al het ons hulle ingelig oor sy doel en rol as my assistent."
Volgens haar het hulle later net “op ’n papiertjie geskryf dat hulle nie oortuig was nie dat hy haar na Mexico moet vergesel nie”.
Bock is raadop en rasend omdat sy voel dat sy sonder sy bystand as haar assistent in ’n vreemde land verlore sal wees.
LEES OOK: Trane en vreugde vir Mej. Rolstoel SA
Die organiseerders het intussen nóg dokumentasie en ’n motivering ingedien om die ambassade te oortuig dat Balie haar as haar assistent móét vergesel. Teen Dinsdag het hulle nog geen terugvoering van die ambassade ontvang nie.
Veronica van Dyk, DA-LP, het intussen onderneem om Bock en Balie te ondersteun en het ’n DA-partylid, gemoeid met binnelandse sake, versoek om per skrywe uit te vind waarom haar verloofde nie ’n visum kon kry nie.
’n Regsgeleerde het ook onderneem om haar te help om die visumaangeleentheid betyds op te los.
Ondanks dié struikelblok, beoog Bock om Suid-Afrika op 22 Oktober 2022 by die Mej. Rolstoel-wêreldkompetisie in Mexico te verteenwoordig.
