On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Inspiration

Nigeriese man oorleef drie dae onder water nadat boot omslaan

───   08:30 Fri, 21 Oct 2022

Nigeriese man oorleef drie dae onder water nadat boot omslaan | News Article
Harrison Okene. PHOTO: Indie88

Harrison Okene se lewe het in 2013 vir altyd verander. Hy was toe 29 jaar oud en het as ‘n kok op die Jascon-4-sleepboot gewerk toe dit omgeslaan het nadat dit deur 'n groot golf getref is.

Die boot het sowat 30m tot op die bodem van die see gesink. Al die bemanningslede, behalwe Okene, is dood. Die verhaal van hoe hy oorleef het, is 'n ongelooflike verhaal van deursettingsvermoë.

Die Jascon-4 was sowat 32km van die kus van Nigerië, besig om 'n Chevron-olietenkskip te stabiliseer.  'n Golf het net voor 05:00 die sleepboot se knooplyn gebreek en dit omgekeer. 

Al die ander bemanningslede was in hul kajuite vasgekeer, maar Okene was in die badkamer nadat hy die toilet gebruik het.

Nadat die boot omgeslaan het, het Okene, wat net sy onderklere aangehad het, daarin geslaag om die badkamerdeur oop te maak. Dis toe dat hy sien hoe verskeie van sy bemanningslede die see ingesuig word.

Hy self is in die gang afgetrek en toe die boot verder in die dieptes van die see gesink het, het hy in 'n beampte se kajuit beland.

Dit was daar in die kajuit se badkamer dat hy, wonderbaarlik, 'n lugborrel gevind het - die sleutel tot sy oorlewing.

Om aan die lewe te bly, moes hy hipotermie sover moontlik vermy. Aangesien hy net in sy onderklere was, moes hy soveel moontlik van sy liggaam uit die water hou. Uiteindelik het hy sy pad na die aangrensende slaapkamer gevind waar hy muurpanele afgeskeur het om 'n tydelike platform te maak waarop hy kon rus.

Hy het geen idee gehad van wat met almal aan boord gebeur het en of hulp sou opdaag nie. Sy situasie was benard.

"Om my was dit net swart en raserig," onthou Okene. “Ek het gehuil en na Jesus geroep om my te red, ek het so hard gebid. Ek was so honger en dors en koud en ek kon net bid om lig te sien.”

Ongeveer 60 uur nadat die boot tot op die bodem van die see gesink het - net toe sy suurstof gevaarlik min geraak het - is sy gebede verhoor.

Sonder dat hy dit geweet het, het Chevron 'n bemanning van Suid-Afrikaanse duikers gestuur om die lyke uit die wrak te haal.

"Ek het die geluid van 'n hamer wat die vaartuig tref, gehoor," sê hy. “Boem, boem, boem. Ek het teen die kant van die vaartuig geslaan in die hoop dat iemand my sou hoor.

Een van die duikers het na die binnekant van die boot beweeg en dit is toe dat Okene 'n ligstraal gesien het.

Hy wou sy hand uitsteek om aan hom te raak. Maar omdat hy nie die duiker, wat waarskynlik nie verwag het om iemand lewendig te vind nie, wou laat skrik het nie, het hy met sy hande begin waai.

Okene se beproewing was egter nie verby nie. Nie net het sy vel begin afdop waar dit lank in die water gedompel was nie, hy was ook baie honger.

Voordat die duikers hom na veiligheid kon neem, moes hulle dink hoe om hom te beweeg. Omdat hy so lank onder water op daardie diepte was, het sy liggaam 'n groot hoeveelheid stikstof geabsorbeer. As hy dadelik weer na die oppervlak gebring word, sou hy 'n hartaanval gehad het.

Nadat hy aan duiktoerusting vasgemaak is, is hy na 'n duikklok ('n soort stewige houer wat gebruik word om duikers van die oppervlak na die diepte en terug in oop water te vervoer) gelei wat hom na die oppervlak geneem het.

Vandaar het hy twee dae in 'n dekompressiekamer deurgebring om sy liggaamsdruk te normaliseer. Dit was tóé dat hy van die lot van sy mede-bemanningslede verneem het. Duikers het 10 lyke gevind, terwyl een nooit gevind is nie.

Okene was die enigste oorlewende.

"Ek weet nie wat die water gekeer het om daardie kamer vol te maak nie," het die dankbare oorlewende erken. “Ek het God aangeroep. Hy het dit gedoen. Dit was ’n wonderwerk.”

Terwyl Okene dankbaar was om te lewe, is hy ná die ervaring met post-traumatiese stresversteuring gelaat.

Mettertyd het hy tog met sy lewe begin aanbeweeg. Net ná die ongeluk het hy homself belowe om nooit weer na die see terug te keer nie.

Maar twee jaar later het hy sy vrese in die gesig gestaar en 'n gesertifiseerde kommersiële duiker geword.

'n Volsirkel-oomblik was toe die duiker wat hom gered het, die een was om sy diploma aan hom te oorhandig.

My Modern Met

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.