Inspiration
Feel Good Friday – Man (72) vang graad!─── 15:07 Fri, 20 Oct 2023
"Ek is die eerste een van my sewe broers en susters wat 'n graad verwerf het."
Sam Kaplan (72) van Lawrenceville in die Amerikaanse deelstaat Georgia se CV het deur die jare langer geword. Maar op 11 Mei vanjaar het hy sy universiteitsgraad gekry.
Hy het ’n graad in rolprent- en mediastudies aan die George Gwinnett College verwerf – al is meeste van sy klasmaats 50 jaar jonger as hy. Sy trotse 99-jarige ma, Virginia, was ook by die gradeplegtigheid.
Kaplan het ná skool dadelik begin werk. Hy het ’n skoonmaakdiens en later 'n telebemarkingsmaatskappy gehad. In ’n stadium het hy in die kliëntediens-afdeling gewerk van ’n maatskappy wat elektronika verkoop het en was ook deeltyds ’n taxibestuurder.
"Ek is die eerste een van my sewe broers en susters wat 'n graad verwerf het." Hy was besig om te bestuur toe hy op die radio hoor dat die Georgia Gwinnett College 'n graad aanbied wat die skryf van draaiboeke behels.
Lees ook: Begin dink soos 'n miljardêr
Hy het dadelik stilgehou en geregistreer vir die kursus. Dit was nie so maklik soos 'n mens sou dink nie en hy het dit aanvanklik moeilik gevind om te onthou hoe om te studeer. Hy het besluit om elke dag met een student te praat en uit te vra oor hul studiemetodes. Sy klasmaats het hom baie ondersteun.
Kate Balsley, medeprofessor in rolprentwese, sê hy was altyd bereid om sy stories en foto’s met sy klasmaats te deel. Sy sê almal is baie trots op hom. Kaplan hoop dat sy naam binnekort aan die einde van ’n rolprent sal verskyn as draaiboekskrywer.
