On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

Inspiration

Verhuising van Goudstad na Oos-Vrystaatse juweel bring opwinding, insig

───   13:37 Thu, 01 Feb 2024

Verhuising van Goudstad na Oos-Vrystaatse juweel bring opwinding, insig | News Article
As skeppende ghoeroe het Waldo Herselman die eiendom omtower. Foto verskaf

“Op die sosiale en toerismefront is Clarens permanent bedrywig… die dorp is ook ’n paradys vir beroepsmense.”

Sowat 18 maande gelede, midde-in die Covid-19 pandemie, het Manie van Schalkwyk, die bestuurshoof van die Southern African Fraud Prevention Service (SAFPS), en sy eggenoot, Waldo Herselman, besluit om van die Goudstad na die “juweel van die Vrystaat” te verhuis.

Sedertdien maak alles van Clarens – van die natuurskoon en klimaat tot die vinnige Wi-Fi-netwerk en afwesigheid van beurtkrag tot die kultuur, kuns en kos – hulle dolgelukkig. “Die lug is vars. Die mense is vars,” vertel Manie. En die mense is nie net van hier nie; hulle trek selfs van Switserland en Frankryk na Clarens.

Op die sosiale en toerismefront is die dorp permanent bedrywig. “Jy kan die kalender op enige dag of maand oopmaak; daar is altyd iets om te doen,” sê Manie, hetsy om by mekaar te kuier, kuns of ontwerpersbier te waardeer, elke aand ’n ander restaurant of die proef te stel of eenvoudig die natuurskoon te geniet.

“Dan is daar natuurlik die jaarlikse gebeure soos die Kunstefees, die Nasionale Switserse Dag (Clarens is genoem na die bergdorpie in Switserland waar pres. Paul Kruger in 1904 as banneling oorlede is), die Titanic Trail Run, en dis maar net ’n paar voorbeelde,” vertel hy.

Die uitsig van Aladdin’s Palace se stoep. Foto: Lekkeslaap

Dié kuns-en-kultuurkolonie is ook ’n paradys vir beroepsmense, onder meer danksy die feit dat beurtkrag sedert September 2023 iets van die verlede is vandat die dorp sy kragverbruik kan reguleer en verminder. 

Manie werk meestal van die huis af, met die uitsondering van een week elke ses weke wanneer hy kliënte en personeel in Johannesburg gaan spreek – en vir Clarens mis.

“Die lug is vars. Die mense is vars.” Foto verskaf

Waldo het voor hul trek sy meubelontwerp-en-vervaardigingsmaatskappy in Johannesburg verkoop. Sedertdien leef hy sy kreatiwiteit op talryke maniere uit. 

Sy eerste projek was die binne- en buite-ontwerp en die ontwerp en vervaardiging van meubels vir Aladdin’s Palace, sy en Manie se tweede “kasteel in Clarens” in die Malutiberge wat deur die Oosterse sprokie van Aladdin geïnspireer is en as ’n weelderige selfsorggastehuis bedryf word. Hul ander sprokiegastehuis is Rapunzel’s Tower.

Die sprokiegastehuis Rapunzel’s Tower. Foto: Lekkeslaap

Sy volgende uitdaging was die grootskaalse opknapping van Titanic View, ’n statige sandteenwoonhuis met ’n gastehuis op die perseel en ’n asemrowende uitsig oor die unieke boegvormige Titanic Rock en omringende berge buite die dorp. 

As bestuurder en skeppende ghoeroe het Waldo die eiendom omtower in ’n sonderlinge samesmelting van egte Clarens en pure Japan, insluitend ’n towermooi, totaal herontwerpte tuin.

’n Sonderlinge samesmelting van egte Clarens en pure Japan. Foto verskaf

Wanneer Waldo nie gastehuis-visies verwesenlik nie, hou hy hom besig met Oosterse boogskiet, joga, meditasie, skilder en kos maak.

Manie sê Clarens is vir hulle ’n oneindige en opwindende ontdekkingstog na buite én binne. “Ons het baie oor onsself uitgevind. Ons waardeer mense en die natuur soveel meer,” vertel hy. “As ons soggens met die honde gaan stap, kry ek in die stilte soms antwoorde op komplekse besigheidsvrae. 

“Dit het my laat besef dinge is nie altyd so ernstig soos wat mense in Johannesburg dink dit is nie.”

OFM Nuus/Linette Retief cgmc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.