On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Nolwethu
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Inspiration

Noord-Kaapse boeregesin maak pampoen-plan vir siek baba

───   KAREN VAN DER BERG 14:08 Tue, 19 Mar 2024

Noord-Kaapse boeregesin maak pampoen-plan vir siek baba | News Article
Die Kriel-gesin met hulle pampoenoes (van links): Marthinus (6), Dawid (8), Charlene (9), Tilene en Michiel. Die driejarige Gielie het voor op ’n pampoen gesit. Foto verskaf

“Juvan is ’n vegter en hulle sal alles in die stryd werp om sy lewe vir hom so goed moontlik in te rig en hom ’n wonderlike toekoms te gee.”

Die spreekwoord lui ’n boer maak ’n plan. As die plan boonop groot boerpampoene insluit, soveel te beter.

Tilene en Michiel Kriel, wat in die distrik Griekwastad boer, en hulle vier kinders het besluit om hulle pampoenoes te verkoop en die geld aan klein Juvan Meyer van Olifantshoek te skenk. Die siek babaseuntjie van agt maande ly aan sistiese fibrose en derm-atresie.

Tilene en Juvan se ma, Jolene Meyer, is al van laerskooldae af vriendinne. Jolene vertel Juvan is op 14 Julie op 30 weke gebore weens ’n toestand waar sy te veel vrugwater gehad het. Sy buik was ook vol vog en daar was komplikasies met sy dermpies. Hy is ook met ’n sist gebore wat 13cm groot was. Al sy organe was op- en vasgedruk.

Juvan het reeds vyf operasies gehad, alles aan sy buik. “Hy was 220 dae in die hospitaal voordat hy in Februarie ontslaan is.”

Klein Juvan Meyer van Olifantshoek. Foto verskaf

Jolene vertel hy was slegs ’n dag by die huis, toe het hy koors gekry en moes hy weer opgeneem word in Mediclinic Bloemfontein. “Die omstandighede was baie moeilik. Ons bly 420 km van Bloemfontein af.”

Jolene moes ook haar besighede toemaak om na Juvan om te sien en het inkomste verloor. Olifantshoek se snikhete weer is nie bevorderlik vir Juvan se gesondheid nie omdat hulle nie waterkoelers in hulle huis mag aanskakel nie.

“Dit kan muf en bakterieë in sy longe veroorsaak. Dit sal infeksie veroorsaak en hom baie siek maak.” Hulle probeer nou geld insamel om ’n ander soort verkoeling in sy kamer in te sit.

Juvan is agt maande oud en was reeds 220 dae in die hospitaal. Foto verskaf

Sy vertel haar swangerskap met Juvan was nie beplan nie en het haar en haar man, Conrad, onkant gevang. Hulle vorige babaseuntjie is aan sistiese fibrose dood. Hy het net vier weke geleef.

Jolene sê Juvan is ’n vegter en hulle sal alles in die stryd werp om sy lewe vir hom so goed moontlik in te rig en hom ’n wonderlike toekoms te gee. Die gesin bid ook vir wonderwerke en volkome genesing.

Sy is baie dankbaar vir almal se bystand en ondersteuning. Tilene en haar gesin se onbaatsugtige daad is ’n groot hulp en hulle waardeer dit opreg.

Juvan het reeds vyf operasies gehad, alles aan sy buik. Foto verskaf

Tilene sê vir hulle gesin is dit ’n reuse voorreg om Jolene by te staan. “Die Heilige Gees het dit op ons hart gedruk om te help.”

Sy vertel die pampoenoes is ’n interessante storie.

“Ons werk met saadproduksie. Daar was ’n stukkie land oop en ons het besluit om sommer pampoene te plant. Dit was nie met die doel om iemand te help nie.”

Die oes het mooi gegroei en toe Tilene die pampoene sien het sy besluit om die opbrengs se geld aan Jolene te skenk.

’n Noord-Kaapse gesin het hul pampoenoes verkoop om die geld aan klein Juvan Meyer van Olifantshoek te skenk. Foto verskaf

“Ons het niks gedoen om die oes te verbeter nie. Dit is net genade dat hulle so mooi gegroei het.”

Die eerste pampoene is almal verkoop. “Daar was 66 pampoene oor. Food Lover’s Market het van die storie gehoor en ons gekontak. Hulle het al 66 gekoop.”

Tilene sê hulle is dankbaar die winkelgroep het die storie raakgesien en betrokke geraak.

Voorts sê sy dit is vir haar belangrik dat haar vier kinders grootword met die wete dat jy, daar waar jy is, ’n verskil in iemand se lewe kan maak. “Dit sal baie beteken as hulle iets hieruit kan leer.”

• ’n BackaBuddy-blad is vir Juvan se onkoste begin: https://www.backabuddy.co.za/juvan-meyer-5686944566538879864

OFM Nuus/Karen van der Berg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.