On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

Inspiration

Ngwathe-munisipaliteit maak Parys se museumterrein skoon

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:16 Mon, 13 May 2024

Ngwathe-munisipaliteit maak Parys se museumterrein skoon | News Article
Foto: Parys Gazette

“Op 14 Maart 1983 is die museum voorlopig vir die publiek geopen en drie jaar later, Junie 1986, is die gebou tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.”

Die plaaslike munisipaliteit in Parys het die museumterrein skoongemaak nadat dit jare lank ’n seeroog was op die gewilde Vrystaatse toeristedorp.

“Parysenaars kan nou weer trots wees op die museum,” sê Saal de Jager, Ngwathe-raadslid. De Jager het ook die projek aangevoer. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurnetwerke (FAK) het Japie Mateis, Ngwathe-streekbestuurder, en sy span bedank vir die gebaar ná die skoonmaaksessie.

Die museumterrein is deur die FAK skoongemaak. Foto: Facebook

Parys is in 1876 aangelê op die plaas Klipspruit. Dis vermoedelik na Parys in Frankryk genoem op ’n voorstel van die Duitse landmeter Schilbach, wat aan ’n beleg van Parys in die Franko-Pruisiese Oorlog deelgeneem het, volgens Plekname van Suider-Afrika.

Hoewel die idee vir ’n museum in Parys reeds sowat 90 jaar later in 1967 ontstaan het, het die plan eers in 1980 werklikheid begin word toe die ou landdroskantoor aangewys is as ’n lokaal vir die museum, vertel Horst Muller (82), ’n vrywilliger by die museum en die afgelope vier jaar ’n inwoner van Parys.

“Hierdie ou historiese gebou is reeds in 1904 opgerig, ná die Anglo-Boereoorlog toe Suid-Afrika onder Britse heerskappy was. Daar is dadelik met restourasie van die gebou begin, ’n proses wat twee jaar geduur het en voltooi is Februarie 1982.”

Die museum moes in 1994 sy deure sluit weens geldelike probleme. Foto: Parys Gazette

Op 14 Maart 1983 is die museum voorlopig vir die publiek geopen en drie jaar later, Junie 1986, is die gebou tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar toe die burgemeester, J.J. Dannhauser, die museum amptelik geopen het.

Die museum moes egter ná minder as ’n dekade in 1994 sy deure sluit weens geldnood, waarna die museum geleidelik agteruitgegaan het.

‘Die gebou self moet skoongemaak word’

“Ek is dankbaar vir die skoonmaak van die terrein, maar daar is baie ander areas binne die museum wat aandag verg. Die gebou self moet skoongemaak word; sy mure het krake, en die vensterrame is in verval. Daar is ook ’n probleme met die dak wat lek.” 

Ongelukkig is daar nie geld nie en hoop Muller dat ander vrywilligers ook sal help om die museum weer in stand te kry.

Die gebou self moet nog skoongemaak word. Foto: FAK Kultuurnetwerke: Sentraal

Die museum het ’n groot versameling foto’s en dokumente wat sorgvuldig versamel is oor baie jare heen. Dit beeld die ryk geskiedenis van die dorp Parys en omgewing hier aan die oewer van die Vaalrivier uit.

Sedert 2010 is die museum weer geopen deur gemeenskapsbetrokkenheid en word sedertdien bestuur deur vrywilligers.

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.