On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Inspiration

Laat koppe draai met tuisgemaakte haarmiddels

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:29 Tue, 12 Nov 2024

Laat koppe draai met tuisgemaakte haarmiddels | News Article
Foto: iStock

Tuisgemaakte haarmaskers kan ’n doeltreffende en natuurlike manier wees om droë, gekroesde of beskadigde hare te herstel.

Met ’n paar eenvoudige bestanddele – wat moontlik reeds in jou kombuis is – kan jy jou hare voed, hidreer en herstel, berig Luxury Hair Extensions.

Hier is ses haarmaskers deur Good Housekeeping. Maak dit in ’n japtrap om verskeie haarprobleme die hoof te bied.

Klapperolie-en-heuningmasker vir droë hare

Droë hare voel dikwels bros en die gebrekkige vog kan lei tot gesplete punte en kroeserigheid. Klapperolie voed die hare, terwyl heuning ’n natuurlike bevogtiger is wat in die hare intrek en dit seël.

Bestanddele

  • 2 e klapperolie
  • 1 e heuning

Aanwysings

  1. Verhit en smelt die klapperolie indien dit solied is, en meng dit baie goed met die heuning.
  2. Wend die mengsel aan op klam hare. Konsentreer veral op droë punte.
  3. Los die masker 20-30 min aan. Spoel dit deeglik af met warm water, voordat jy jou hare met sjampoe was.

Foto: Healthline 

Avokado-en-olyfoliemasker vir hare wat kroes

’n Gebrek aan vog en natuurlike olie lei dikels tot gekroeste hare. Avokadopeer is ryk aan vitamiene en gesonde vette. Saam met olyfolie kan dit kroeserige hare tem vir ’n gladder en meer hanteerbare haredos.

Bestanddele

  • 1 ryp avokadopeer
  • 2 e olyfolie

Aanwysings

  1. Druk die avokadopeer tot ’n gladde pasta.
  2. Roer die olyfolie by en meng goed saam.
  3. Wend die masker op klam hare aan. Begin by die wortels en werk dit tot by die haarpunte deur.
  4. Los dit 30-45 min. aan. Spoel dit deeglik af met warm water, voordat jy jou hare met sjampoe was.

Foto: Healthline

Piesang-en-eiermasker vir beskadigde hare

Piesangs is propvol vitamiene en kalium, wat help om beskadigde hare te herstel en gesplete punte te voorkom. Die proteïen in eiers versterk die haarskag, wat help om hare te herstel.

Bestanddele

  • 1 ryp piesang
  • 1 eier
  • 1 e olyfolie

Aanwysings

  1. Druk die piesang fyn tot ’n gladde pasta.
  2. Klits die eier en meng dit met die fyngedrukte piesang en olyfolie.
  3. Wend die mengsel op klam hare aan, maak seker dat elke string hare bedek word.
  4. Laat die masker 20-30 min. aan. Spoel dit deeglik af met koel water, voordat jy jou hare met sjampoe was.

Foto: Healthline

Jogurt-en-heuningmasker vir gebreekte hare

Gebreekte hare is dikwels ’n teken dat hare ekstra voeding benodig. Jogurt bevat melksuur, wat die kopvel saggies afskilfer, terwyl heuning jou hare hidreer en versterk. Hierdie masker help om die haarstruktuur te versterk, wat voorkom dat hare maklik breek.

Bestanddele

  • 2 e ongegeurde jogurt
  • 1 e heuning
  • 1 e olyfolie

Aanwysings

  1. Meng die jogurt, heuning en olyfolie goed in ’n bak.
  2. Wend die masker aan op klam hare, begin by die wortels en werk deur tot by die punte.
  3. Laat dit 20-30 min. aan. Spoel dit deeglik met louwarm water af, voordat jy jou hare met sjampoe was.

Kasterolie-en-aalwynmasker vir groei en volume

Kasterolie is ’n kragtige bestanddeel wat help om bloedvloei na die kopvel te stimuleer, haargroei ’n hupstoot te gee en dikker hare te weeg bring. Aloe vera hidreer die kopvel, wat gesonde haargroei bevorder.

Bestanddele

  • 2 e kasterolie
  • 2 e Aloe vera-jel

Aanwysings

  1. Meng die kasterolie en Aloe vera-jel.
  2. Wend die mengsel op jou kopvel aan en masseer liggies om sirkulasie te stimuleer.
  3. Laat dit 30-45 minute aan. Spoel dit deeglik met louwarm water af, voordat jy jou hare met sjampoe was.

Foto: Healthline

Ryswater-en-groenteemasker vir versterking en herstel

Ryswater word al eeue lank gebruik om gesonde haargroei te bevorder en glans te herstel. Dit is ryk aan inositol, wat beskadigde hare help herstel. Groentee, bekend vir antioksidante, versterk hare en voorkom haarverlies.

Bestanddele:

  • 1/2 k ryswater
  • 1/2 k sterk groentee

Aanwysings:

  1. Om ryswater te maak: spoel ’n 1/2 koppie rys met water af en week dit dan vir 30 minute. Syfer die water in ’n bak.
  2. Brou ’n sterk koppie groentee en laat dit afkoel.
  3. Meng die ryswater en groentee.
  4. Wend die mengsel aan jou hare en kopvel, masseer liggies.
  5. Laat dit 20-30 min. aan. Spoel dit deeglik met louwarm water af, voordat jy jou hare met sjampoe was.


Foto: Healthline

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.