Agriculture
‘Jong’ Noord-Kaapse wyne blink uit by ‘oudste’ wynskou─── 08:42 Tue, 06 Sep 2022

’n Pinotage en ’n Sauvignon Blanc van Oranjerivier-Wynkelders (OWK) is onlangs by die jaarlikse SA Jongwynskou vereer.
Volgens Charl du Plessis, hoof-uitvoerende beampte van die Oranjerivier-wynkelders, die derde grootste wynkelder in die Suidelike Halfrond, is die OWK aangenaam verras deur die toekennings.
Hy sê daar is ‘n aanname in die bedryf dat Sauvignon Blanc nie suksesvol in ’n streek soos die Oranjerivier gemaak kan word nie omdat onder andere "te warm" is. Die trofee vir hul Pinotage is ook die eerste keer dat die kelder ‘n nasionale erkenning vir ’n rooiwynkultivar kry.
Die SA Jongwynskou is die oudste wynskou in die Suidelike Halfrond en waarskynlik een van die oudstes ter wêreld.
In 2022 het die kompetisie vir die 190ste keer plaasgevind.
Dié jaarlikse skou vir wyne van die huidige oesjaar word deur die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSA) in samewerking met Agri-Expo aangebied.
LEES OOK: Produsente, kelders uitgenooi om vir Sauvignon Blanc-kompetisie in te skryf
Volgens Du Plessis was OWK histories bekend as ‘badwynkelders’ omdat hulle in die verlede wyn gemaak het wat vir die stook van brandewyn gebruik is en wat dikwels nie van goeie gehalte was nie.
Weens deregulering in die landboubedryf het hulle sedert die laat negentigerjare die geleentheid aangegryp om meer gehaltewyn te produseer.
“Ons wynmakers verdien al die erkenning. Hulle doen baie moeite om goeie wyne te produseer en só verbruikers se siening van wyne uit die Oranjerivierstreek te verander. Dit is vir ons lekker om by kompetisies soos die Jongwynskou te presteer."
Die twee wyne wat lof ontvang het, is die OWK Grootdrink Pinotage (gehout) en OWK Kakamas Sauvignon Blanc (gehout).
“Ons gaan beslis volgende jaar weer inskryf. Ons hou van die onpartydige manier waarop die wyne beoordeel word. Ek dink omdat daar so ’n wye deelname is, is daar ook meer erkenning van die resultate."
’n Gehoute Shiraz van Diemersdal-wynlandgoed in Durbanville het die gesogte Generaal Smuts-trofee as die algehele SA Kampioen-Jongwyn van 2022 gewen, die eerste keer sedert 2004 dat ’n Shiraz dié trofee wen.
Vanjaar se 1218 inskrywings is deur 50 spesialisbeoordelaars op 14 panele geëvalueer.
OFM Nuus/Bambatha Giko