Agriculture
Klimaatsverandering kan aansienlike gevolge vir vee- en graanproduksie inhou─── ELSABÉ RICHARD 08:25 Wed, 21 Jun 2023
Ná jare se goeie reën en gunstige veldtoestande as gevolg van die La Niña, word Suid-Afrika nou deur 'n El Niño-verskynsel in die gesig gestaar, wat gewoonlik droër weer tot gevolg het.
Die El Niño lei ook gewoonlik tot onsekerheid vir boere met die potensiaal om opbrengste negatief te beïnvloed.
LEES OOK: Landbouprodusente kan proaktief wees teen droogte
Paul Makube, Senior Landbou-ekonoom by FNB, sê veranderende weerpatrone sal waarskynlik in die toekoms aansienlike gevolge vir Suid-Afrikaanse boere hê, veral dié wat by vee- en graanproduksie betrokke is.
“Die vorige La Niña-jare was 'n seën vir Suid-Afrikaanse boere, met bogemiddelde reën wat die landbou ondersteun het en gelei het tot hoër opbrengste in veldgewasse, vrugte, groente en selfs verbeterde weiding vir vee, maar die verwagte skuif na El Niño-toestande bied ’n nuwe stel uitdagings vir boere wat reeds verskeie ander faktore in die gesig staar wat hul aktiwiteite beïnvloed.”
LEES OOK: Droër toestande kan vir binnelanders wag
Volgens Makube sluit hierdie uitdagings beurtkrag, veranderende verbruikerspatrone en dalende verbruikersvertroue in weens laer vlakke van besteebare inkomste en relatief verhoogde boerdery-insetkoste.
Hy verduidelik dat die veranderende weerpatrone hierdie uitdagings moontlik sal vererger en opwaartse druk op koste vir boere en voedselpryse vir verbruikers sal byvoeg, wat kommer oor voedselonsekerheid verder aanwakker – nie soseer in terme van beskikbaarheid nie, maar meer as gevolg van onbekostigbaarheid.
ALSO READ: Drought, climate change spark interest in cactus farming
“Aanpassing deur boere is van kardinale belang in die lig van die komende warm en droë toestande wat deur El Niño veroorsaak word,” beklemtoon hy, “en vir veeboere beteken dit om nou stappe te doen om ’n gepaste balans tussen voerbeskikbaarheid en voorraadgetalle te verseker.”
Intussen het onafhanklike landbouweerkundige Johan van den Berg onlangs aan OFM-nuus gesê hoewel dit onmoontlik is om vooruit te beplan vir droogte, is dit egter juis belangrik dat produsente proaktief moet wees.
“Moenie te drasties optree nie, soos om nié te plant nie. Laat grondvogtoestande ’n belangrike rol speel in die besluitneming.”
Voorts moet graanboere meer selektief wees om die regte landerye vir die regte gewasse te gebruik.
“Met die baie nat toestande van die afgelope paar seisoene is grond wat nie baie water kan opgaar nie, al hoe meer gebruik omdat daar gereelde reën voorgekom het. Dit gaan verander tydens die El Niño-seisoene.”
