On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Agriculture

Moenie wag vir jou ‘Rubicon-oomblik’ om op te tree nie

───   07:58 Thu, 07 Mar 2024

Moenie wag vir jou ‘Rubicon-oomblik’ om op te tree nie | News Article
Foto: Astral Foods

Almal ken die gesegde “’n boer maak ’n plan”, maar rolspelers in die hele landbouwaardeketting is ook bedrewe planmakers wanneer dit by uitdagings kom wat selfs skynbaar buite hul beheer is.

Frans van Heerden, besturende direkteur van Astral Foods se kommersiële hoenderafdeling, het op die onlangse “Oplossings vir die Suid-Afrikaanse Platteland”-kongres buite Bothaville vertel dat ondernemings nie moet wag vir hul ‘Rubicon-oomblik’ voordat hulle optree om hul onderneming toekomsbestand te maak nie.

Die maatskappy het ongelooflike uitdagings by hul Standerton-aanleg ervaar tydens ’n twee weke lange wateronderbreking, wat op ’n ramp afgestuur het. 

Astral Foods is die grootste hoenderprodusent in die land en verskaf werk aan meer as 5 500 mense op dié dorp in Mpumalanga.

“Ons infrastruktuur in Standerton is spesifiek ontwerp vir pluimveeboerdery. Ons bedryf die grootste voermeule in Mpumalanga en besit verwerkingsgeriewe met ’n geïntegreerde teel- en uitbroeibedryf wat 1,8 miljoen braaikuikens per week kan verwerk. 

“Verskuiwing was nie ’n opsie nie. Behalwe die blote koste van die verskuiwing van ons infrastruktuur, is Astral een van die grootste werkgewers in die streek, en hervestiging sou ’n verwoestende impak op die plaaslike gemeenskap gehad het,” sê Van Heerden.

Die onderneming moes toe self plan maak nadat onderhandelings met die Lekwa-munisipaliteit doodgeloop het.

Astral het planne gemaak om sy water uit die Vaalrivier te verkry en ’n waterlisensie bekom om water uit die Vaalrivier na sy noodsaaklike Goldi-hoenderaanleg op Standerton te pomp. Die skuif het daartoe gelei dat hy sy waterlyn teen ’n koste van R100 miljoen gebou het, wat die maatskappy onafhanklik van die munisipaliteit gemaak het.

“Voorkoming is beter as genesing,” sê Van Heerden en waarsku mense om nie vir hul eie dorp en maatskappy se Rubicon-oomblik te wag nie. “Om terug te bons van ’n ramp soos ’n tien dae lange wateronderbreking en herstel van finansiële verliese, is uitdagend en duur.”

Hy sien die kommerwekkende neiging van infrastruktuurverval wat van landelike gebiede na stedelike sentrums versprei, wat ook hul stedelike geriewe beïnvloed. “Dit beklemtoon die onderlinge verband van infrastruktuuruitdagings – oplossings wat vandag vir landelike gebiede ontwikkel is, hou die sleutel in om toekomstige probleme in stede aan te spreek.”

Astral het die volgende lesse gedurende die afgelope paar jaar geleer:

  • Die voorsieningsituasie is erger as wat die regering vir ons sê. Daarom is dit noodsaaklik om voorsorgmaatreëls te tref en vir die ergste voor te berei.
  • Besigheidsonderbreking kos geld en ontwrig bedryfsdoeltreffendheid oor die langer termyn. Herstel word baie meer ingewikkeld.
  • Die keuse van vennote met die kennis om ’n holistiese plan te ontwikkel en te implementeer wat voorsiening maak vir buigsaamheid, is van kardinale belang.
  • Die oplossing se koste moet gelyk aan of minder wees as die huidige diensteverskaffing, insluitend die koste van eienaarskap.
  • Verantwoordbaarheid van die regulatoriese omgewing kan nie aan derde partye gedelegeer word nie.
  • Weens tegniese en wetenskaplike oorwegings, is voortdurende bestuur van oplossings deur spesialis diensverskaffers nodig ná ingebruikneming.
  • Tydlyne en koste moet wetlike en omgewingsvereistes in ag neem.
  • Ons moet ’n balans vind om alle sfere van die regering aanspreeklik te hou (nasionaal, provinsiaal en plaaslik) terwyl ons goeie verhoudings handhaaf.
  • Ons het ’n sosiale verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap om dienstevoorsiening te verbeter.
  • Belanghebbende- en gemeenskapskommunikasie kan vertragings veroorsaak – berei voor vir moeisame en langdurige onderhandelinge.

OFM Nuus/Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.