Agriculture
Konynboerdery sorg vir diversiteit in boerdery─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 16 Sep 2025

Daar word dikwels na ’n alternatiewe inkomste in boerdery gesoek en konynboerdery kan ’n goeie ekstra vertakking van bestaande boerdery wees.
Konynboerdery is een van die minder bekende landbousektore in Suid-Afrika, maar dit bied toenemende geleenthede vir klein en kommersiële produsente. Die konynbedryf kry stadig maar seker meer aandag weens sy lae produksiekoste en hoë voedingswaarde.
“Vaal Rabbits het in 1993 begin as ’n kommersiële boerdery en vandag is daar alreeds 14 verskillende soorte rasse betrokke. Rabbit South Africa is die leiersorganisasie wat lede met jare se ondervinding bystaan en ook informele opleiding gee aan nuwe boere,” sê Anton Gouws, wat ’n konynboerdery bedryf.
Voordele van konynboerdery is vinnige reproduksie, lae voerkoste, gesonde vleis en klein spasievereistes. Uitdagings in die bedryf sluit onder meer marktoegang, streng regulasies en verwerkingsvereistes, roofdiere en siektes in.
Konynboerdery is uiters geskik vir kleinboere en selfs stedelike boere. Veral in Europa en Asië is konynvleis ’n gevestigde produk, maar in Suid-Afrika kan daar nog heelwat markontwikkeling gedoen word.
Konynboerdery in Suid-Afrika is nog ’n nismark, maar het egter die potensiaal om ’n waardevolle bydrae te maak tot voedseldiversikasie. Met die fokus op gesondheidsvoordele van konynvleis kan die bedryf ’n stewiger voetspoor kry.
Konyne word streng beoordeel volgens klubstandaard en reëls. Foto verskaf
“Ons woon graag skoue en kompetisies by, daar is altyd ’n geleentheid om mense te wys, leer en sommer net te gesels oor die konynbedryf,” volgens Gouws.
Enigiemand wat belangstel om meer inligting te kry oor konynboerdery, die konynklub of kursusse in dié boerdery kan Anton Gouws kontak, antonrabbits@gmail.com.
OFM Agri mvh