Offbeat
Weird Wide Web – Leerlinge ontwerp poot vir spesiale hondjie─── 15:20 Fri, 17 Feb 2023
’n Rondloperhondjie van Texas in die VSA wat met vier bene maar slegs drie pote gebore is, kan binnekort ‘n volledige stel pote hê, danksy die kreatiewe insette van ’n groep hoërskoolleerlinge.
Die hondjie is Forrest Stump gedoop toe die Texas Rescue Riders hom en sy ma, broers en susters gered het waar hulle onder ‘n kampeerwa skuiling gesoek het.
Die Texas Rescue Riders is ‘n groep diereliefhebbers wat verwaarloosde troeteldiere op Texas se platteland red en dan pleegsorghuise vir hulle soek.
Jessica Lietzke, die pleeg- en aannemings koördineerder van Texas Rescue Riders, sê hulle werk dikwels met troeteldiere wat spesiale behoeftes het omdat hulle bereid is om uitdagende gevalle aan te pak, selfs al kos dit meer geld.
Sara Gauthier, 'n ingenieurs onderwyseres in Wisconsin, het besluit om haar klas uit te daag om ‘n prostetiese poot vir Forrest te ontwerp. Sy sê die projek is meer betekenisvol as die ander projekte waaraan die leerlinge al gewerk het.
"Dit is bemagtigend vir die kinders om veel harder te probeer as wanneer dit net iets is waarmee ek in die klaskamer vorendag gekom het.”
Die leerlinge het een van Forrest se pote gemeet en met ‘n 3D-laser foto's daarvan geneem, waarna die studente in groepe gewerk het om ‘n pasgemaakte poot te skep.
Gauthier het in 'n latere onderhoud gesê een van die uitdagings was die feit dat Forrest gegroei het sedert die klas hom gemeet het.
Een van die ontwerpe het hom wel gepas en hy het selfs vir 'n minuut of so daarmee geloop.
Forrest is intussen aangeneem en word nou Harvey genoem. Sy nuwe gesin hoop die finale prostetiese poot sal teen Maart gereed wees.
Lees meer hier.
