Offbeat
Weird Wide Web – Vermiste tamatie ná 8 maande in ruimte gevind─── 15:08 Thu, 14 Dec 2023
“Ek het soveel ure bestee om na die tamatie te soek, maar dit sal seker eendag gevind word.”
Die ruimtevaarder Frank Rubio se naam is uiteindelik in ere herstel. Die bemanning van die Internasionale Ruimtestasie (ISS) het beweer Rubio het die eerste tamatie geëet wat in die ruimte geoes is.
Jasmin Moghbeli, ’n ruimtevaarder van Nasa, het in ’n regstreekse uitsending ter viering van ISS se 25ste bestaansjaar gesê oorblyfsels van die tamatie is ná agt maande gevind waar Rubio dit op die verkeerde plek gesit het.
“Ons goeie vriend Frank Rubio word al geruime tyd verkwalik dat hy die tamatie geëet het. Ons het egter die tamatie gekry,” het Moghbeli gesê.
Rubio is reeds in September terug na die aarde maar was maande lank gespot dat hy die tamatie geëet het en dit nie wou erken nie.
“Ek het soveel ure daaraan bestee om na die tamatie te soek, maar dit sal seker eendag gevind word,” het Rubio in September gesê.
Die ruimtevaarders het nie bekend gemaak in watter toestand die tamatie gevind is nie. Rubio het vroeër voorspel dat die humiditeit aan boord van die ruimtestasie dit oneetbaar sou maak.
