On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Offbeat

Weird Wide Web – Te lank of te veel sit kan sleg wees vir jou brein

───   15:19 Mon, 19 May 2025

Weird Wide Web – Te lank of te veel sit kan sleg wees vir jou brein | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

’n Nuwe studie dui daarop dat te veel tyd sit jou brein kleiner kan maak en jou denkvermoëns kan beïnvloed.

Sit jy gemaklik? Moenie te gemaklik raak nie — dit kan nadelig wees vir jou brein.

’n Nuwe studie wys as jy te veel tyd sittend deurbring, kan jou brein krimp en jou denkvermoëns kan negatief beïnvloed word. Dit geld selfs al probeer jy opmaak vir die tyd wat jy sit met gereelde oefening. 

Navorsers van Vanderbilt-universiteit in Nashville, Tennessee, het 404 volwassenes oor ’n tydperk van sewe jaar bestudeer. Al die deelnemers was 71 jaar of ouer en het aan die begin van die studie nie aan demensie gely nie.

Die deelnemers het vir 10 dae lank toestelle aan hul polse gedra om te meet hoeveel tyd hulle sittend deurgebring het en hoeveel tyd hulle aktief was. Hulle denkvermoëns is ook getoets, en hul breine is geskandeer.

Hierdie metings, toetse en skanderings is aan die begin van die studie gedoen en weer verskeie kere gedurende die sewe jaar herhaal.

LEES OOK: Weird Wide Web – Britse man amper agter tralies vir domheid!

Die navorsers het bevind dat meer tyd sittend gekoppel kon word aan ’n afname in geheuevermoë en 'n afname in breindikte in dele van die brein wat gewoonlik deur Alzheimer se siekte geraak word.

Mettertyd het deelnemers wat meer gesit het ook swakker gevaar in take waar hulle voorwerpe moes benoem en het hulle stadiger inligting verwerk. Die volume van hulle hippokampus – die deel van die brein wat belangrik is vir geheuevorming – het ook afgeneem.

Hierdie effekte was selfs erger by deelnemers wat ’n spesifieke geen gehad het wat met ’n hoër risiko vir alzheimers geassosieer word.

Die meeste deelnemers het egter minstens 150 minute se oefening per week gekry, soos aanbeveel deur gesondheidskenners. Dit dui daarop dat oefening nie noodwendig die negatiewe gevolge van te veel sit teenwerk nie.

Die navorsers stel voor dat gesondheidswerkers wat na ouer mense omsien, nie net let op hoeveel hulle oefen nie, maar ook probeer om die tyd wat hulle sittend deurbring, te verminder.

Lees meer

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.