Offbeat
Weird Wide Web – Amerikaanse winkelsentrums begin om woonstelle daarin te voeg─── 15:23 Wed, 28 May 2025

In die vroeë 2000’s het ’n groep kunstenaars in die VSA ’n geheime woonstel binne ’n winkelsentrum gebou en vier jaar lank daarin gewoon. Die storie is verlede jaar in ’n dokumentêr omskep, genaamd Secret Mall Apartment.
Maar nou, volgens verslae uit die VSA, voeg al hoe meer winkelsentrums regtig woonstelle by hul persele – en dié keer is dit nie ’n geheim nie!
CNBC berig dat groot afdelingswinkels in winkelsentrums sluit, en dat hulle plek maak vir woonstelle, sowel as eetplekke, kuierplekke en ontspanningsgeriewe. Volgens kenners het die land nie meer soveel winkelsentrumruimte nodig soos voorheen nie – maar daar is wél ’n groot behoefte aan behuising.
Die eiendomsmaatskappy Realogic het reeds in Januarie 2022 gesê dat 192 winkelsentrums in die VSA planne gehad het om woonstelle op hul terreine by te voeg.
Hierdie veranderinge het verskeie voordele. Die winkelsentrums benut hul ruimte beter, en die nuwe woonstelle beteken mense bly naby die restaurante en winkels – wat hulle dan ook meer gereeld sal gebruik.
LEES OOK: Weird Wide Web – Chinese dame vergeet Engels ná breinbesering
Baie van die winkelsentrums in die VSA het dit moeilik gevind om winsgewend te bly weens die toename in aanlyn inkopies. Maar Jacob Knudsen van die eiendomsmaatskappy Macerich het aan CNBC gesê dat hy glo “die winkelsentrum raak weer cool.”
Knudsen se maatskappy voeg woonstelle by die FlatIron Crossing Mall in Colorado. Behalwe vir behuising, bou sommige winkelsentrums ook pickleball-bane en mediese sentrums.
Hierdie groot ruimtes is dus nie meer net plekke om te gaan inkopies doen nie.
Natuurlik hou nie almal van die idee om in ’n winkelsentrum te woon nie en sommige mense is bekommerd dat woonstelle verkeersopeenhopings in daardie gebiede sal vererger.
Maar volgens CNN is winkelsentrum-woonstelle gewild onder jong mense en enkel volwassenes – mense wat alles op een plek wil hê, saam met ’n ingeboude gemeenskap.
OFM Nuus mvh