Offbeat
Weird Wide Web – Wetenskaplikes begrawe onderklere─── 16:00 Thu, 24 Sep 2026
Wetenskaplikes in Switserland het met ’n ongewone manier vorendag gekom om die gesondheid van grond te toets. Hulle het meer as 2 000 paar katoenonderklere in tuine, landerye, weivelde en grasperke begrawe.
Die navorsers het die onderklere twee maande later weer uitgegrawe om te sien hoeveel daarvan ontbind het. Dit blyk hoe vuiler die grond is, hoe beter. Hulle het bevind onderklere wat in private tuine begrawe is, het die vinnigste ontbind het. Ongeveer 58% van die katoen het binne twee maande afgebreek. By grasperke het slegs sowat 40% ontbind.
[audio]
Waarom is dit belangrik? Omdat gesonde grond wemel van wurms, swamme, bakterieë en ander klein organismes wat organiese materiaal afbreek en voedingstowwe herwin. Daarom het die navorsers ’n sogenaamde onderbroek-indeks voorgestel as ’n prettige en maklike manier om vir mense te wys hoe biologies aktief hul grond is.
Die projek het ongeveer ’n duisend vrywilligers betrek wat onderklere en duisende teesakkies in verskillende dele van Switserland begrawe het. Maar daar is 'n klein voorbehoud: meer ontbinding beteken nie outomaties gesonder grond nie. Uiters hoë vlakke van voedingstowwe wat dikwels deur oormatige bemesting veroorsaak word, kan ook ekostelsels beskadig.
Die navorsers sê die eksperiment het een van Switserland se mees gedetailleerde data oor grondlewe opgelewer. Eerlikwaar, na al die ingewikkelde wetenskaplike toerusting in die wêreld, is die beste manier om mense in grond te laat belangstel, soms bloot om vir hulle te sê om hul onderklere te begrawe.
Lees meer dg
