Press Office
KI, nie aldag so slim in die nuuskantoor─── 11:34 Tue, 13 Jan 2026
KI. Kunsmatige intelligensie. Maar is dit werklik een van die twee? - Morne van Rooyen, OFM Nuusredakteur
Toe KI ’n jaar of twee gelede met mening sy opwagting maak, het ek dit geesdriftig aangegryp. Omdat ons ’n betaalde opsie gekies het, het ek gereken ek kan dit “afrig” soos ’n mens ’n verslaggewer oplei om jou publikasie se styl te volg.
Maar nadat ek oor en oor dieselfde riglyn moes herhaal, baie soos met ’n hardhorende mens, het ek moed opgegee. Dit was minder moeite om self ons styl op vertaalde kopie toe pas. Die app kon nie eens die basiese voorskrifte soos “polisiekantoor” pleks van “polisiestasie” en “beslag lê op” pleks van “konfiskeer” onthou nie.
Dit laat ’n mens wonder hoe intelligent tegnologie is wat letterlik intelligent genoem word. Tog was dit KI se opdringerigheid wat meer gepla het. Eendag het ek as ’n proefneming eenvoudig ja gesê op al sy aanhoudende voorstelle: “Wil jy dit ook in Afrikaans hê?” Ja. “Kan ek dit vir jou oorskryf in ’n meer formele styl?” Ja. “Wil jy hê ek moet dit vir jou in tabelformaat oorskryf?”
Ná tien voorstelle het ek belangstelling verloor, maar die app het nie brieke nie en sou seker nou nog besig gewees het om dit in Mandaryns te vertaal met ’n opsomming van die sewe hoofpunte en uiteen te sit hoe dit verband hou met die opstand in Iran, al het die storie begin as ’n motorongeluk op die N8.
Nadat ek agtergekom het ek bestee meer tyd daaraan om die masjienvertalings reg te skaaf volgens ons styl, het ek opgehou om dit te gebruik en self berigte vertaal. So kan ek dit redigeer terwyl ek vertaal, kyk vir foute, ons styl toepas en verkort waar nodig of ekstra inligting byvoeg wat noodsaaklik is.
Maar wat sê KI self oor sy kreatiwiteit? Ek het ChatGPT gevra: “Hoe kan ek sê KI kry sy inligting of word geleer uit menslike bronne om self te skryf of te skep? Jy kan dalk vir my verduidelik in 100 woorde.”
In ’n oogwink kom die antwoord: “Kunsmatige Intelligensie (KI) kry sy inligting deur opgelei te word met groot hoeveelhede menslike data, soos boeke, artikels, webwerwe en ander geskrewe tekste. Hierdie data word gebruik om patrone in taal te leer – byvoorbeeld hoe sinne gevorm word en hoe idees verbind.
“KI ‘verstaan’ nie soos ’n mens nie, maar gebruik statistiese waarskynlikhede om nuwe teks te skep wat sinvol lyk. Wanneer KI skryf of skep, kombineer dit wat dit uit menslike voorbeelde geleer het om oorspronklike antwoorde te genereer, sonder om spesifieke bronne direk te kopieer.”
Mooi! Maar daar lê die probleem. KI gebruik menslike voorbeelde, menslike kreatiwiteit, oftewel alles wat die mensdom tot dusver geskep het. Ongelukkig maak ál meer mense op KI staat om namens hulle te skep. Algaande word menslike kreatiwiteit vervang deur kunsmatige samestellings en afleidings.
Ons staan ons skeppingsvermoë willens en wetens af aan blikbreine en verwag hulle moet aanhou opkom met nuwe skeppings, maar die insette waarmee masjiene kan aanhou skep, word ál minder. ’n Bose kringloop.
In die nuuskantoor verwag ons nie van KI om kreatief te wees nie. Dis ’n nuttige hulpmiddel om vinnig vier paragrawe in honderd woorde op te som en te vertaal vir ’n nuusbulletin.
Maar dit kan nie bepaal wat die belangrikste invalshoek vir ons luisteraars is nie, dit kan nie ons styl toepas nie, dat kan nie woorde wat moeilik is om uit te spreek, outomaties met makliker woorde vervang nie; dit weet nie wat om weg te laat en wat om in te sit nie.
Nadat Google KI-soekresultate verpligtend gemaak het, het ek ’n nuwe soekenjin gebruik wat net soekresultate gee. Miljoene webtuistes skep inkomste vir hul skeppers en skrywers deur besoeke. As KI die soektog oorneem, besoek mense nie die webtuistes self nie. Sonder besoekers, krimp hul inkomste en verdwyn hulle unieke inhoud. Waarop gaan KI dan teer?
In drie gevalle maak KI die lewe vir ons makliker. Dit kan selfs Afrikaanse teks van onderhoude feitlik akkuraat transkribeer om in ’n berig te gebruik, solank die skrywer die inligting kan herrangskik en sinvol kan aanbied.
Dit kan swak opnames se gehalte in ’n kits verbeter, byvoorbeeld agtergrondgeraas verwyder en die volume egalig maak. Dit kan ook swak foto’s se gehalte verbeter, dié met lae resolusie vergroot sodat ons dit op die web kan gebruik en mense en voorwerpe uit foto’s verwyder.
KI is nie kunsmatig nie, want sonder die menslike kreatiwiteit waarop dit gebou word, kan dit nie skep nie. Dis ook nie intelligent nie, want intelligensie gaan gepaard met wysheid, insig en begrip.
