On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Rugby

Gaan dit regtig so sleg met VS-rugby?

───   10:17 Mon, 23 Mar 2009

Gaan dit regtig so sleg met VS-rugby? | News Article

Hendrik Cronjé (hendrik@ofm.co.za)

Bloemfontein. - Ja, die Vodacom-Cheetahs se vertonings in die Super 14-reeks is nie na wense nie. Maar dit is ook nie veel slegter as wat die geval die vorige drie jare was nie.

Want die Cheetahs kon ook nie vir twee seisoene onder Rassie Erasmus (almal weet hoe goeie afrigter hy is) 'n sege oorsee behaal nie.

Ja, daar is sekere dinge wat Naka Drotské sal moet regstel. Soos byvoorbeeld sy span se taktiese skopwerk. Volgens my is dit die grootste enkele rede waarom die Cheetahs nie vanjaar 'n sege kon behaal nie.

En natuurlik bly ek by my standpunt dat ons agterlangs te min spelbrekers van Super 14-gehalte het. Ek sê daarmee nie ons het swak agterspelers nie. Maar ons het nie spelbrekers soos die meerderheid ander spanne het nie.

Hier en daar was daar 'n probleem met dissipline. En hier en daar is daar swak verdedig en was die afronding nie altyd na wense nie. Maar enige span ondervind soms probleme met afronding, verdediging en dissipline - dit is nie dat daar 'n krisis daaroor bestaan nie.

Gaan dit daarom regtig so sleg met Vrystaat-rugby?

My antwoord is nee - of kan ek dalk oor die volgende twee dae verkeerd bewys word. Ek sou wel sê dat daar nou sekere foute reggestel moet word. Maar daar is nog baie hoop vir die toekoms.

Redes waarom ek sê dit gaan nie so sleg nie, is:

* Omdat die Vrystaat-Cheetahs skaars 6 maande gelede nog in die halfeindstryd van die Curriebeker gespeel het - dit nadat ons 'n tweede uittog van spelers gehad het en aan drie 18-jariges blootstelling teen die hardebaarde gegee het.  

* Die Vrystaatse Vodacombeker-span het in die eindstryd gespeel en is daar deur Jenny Bentel as 'n televisieskeidsregter beroof.

* Die Vrystaatse o.21-span het naelskraap in die eindstryd van die nasionale o.21-liga verloor.

* Vrystaat het in die nie-amptelike eindstryd van die Cravenweek gespeel.

* En Vrystaat se o.19-span was ook in 2008 se uitkloprondes betrokke.

So gaan dit regtig so sleg? Ja, daar moet sekere dinge in die Super 14-reeks aangespreek word. Maar alles is nie nou verkeerd nie.

Ek meen die mense dink te veel met emosie. Spreek die dinge aan wat verkeerd is en stel dit reg. Want dit bly steeds totaal onaanvaarbaar dat ons nog nie oorsee kon wen nie. Maar behou perspektief. 

* Dit is belangrik om altyd albei kante van 'n saak aan te hoor. Harold Verster kry vanaand kans om sy kant van die saak te stel - ons gaan dan al jul harde vrae reguit aan hom stel. Ons gaan ook môre met Naka Drotské praat om eerstehands te verduidelik waarom ons nog segeloos in die Super 14-is.

Eers dan kan ons 'n werklike objektiewe besluit neem oor hoe groot die fout in Vrystaat-rugby is. Miskien is dit groter as wat 'n mens dink - of hopelik is dit iets wat betyds reggestel kan word. 

Iemand het 'n baie interessante opmerking op Womf gemaak. Dit is of die spelers die afrigter maak? En of die afrigter die spelers maak? Dit is nogal 'n goeie opmerking - veral in Frans Ludeke se geval.

Hy is deur die Lions weggejaag omdat hy nie goed genoeg was nie. Nou is hy uiters suksesvol by die Bulls en Ludeke se span is nog onoorwonne in die Super 14.

Kyk selfs na Rassie Erasmus. As afrigter van die Cheetahs kon hy geen Super 14-wedstryd oorsee wen nie. Toe gaan Rassie Stormers toe en hy wen verlede jaar verskeie wedstryde op 'n streep as Stormer-afrigter. Hoe verduidelik 'n mens dit? Dit laat 'n mens wonder oor bogenoemde twee vrae.....

Kom ons besluit daarom eers na vandag en môre se onderhoude hoe groot die fout werklik is.


 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.