On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Rugby

Grey teen Paul Roos: Gees loop hoog in Bloemfontein

───   MORGAN PIEK 08:26 Fri, 15 Aug 2025

Grey teen Paul Roos: Gees loop hoog in Bloemfontein | News Article
O’Ryan Kleyn in aksie teen Selborne. Foto: Morgan Piek

Grey Kollege se eerste rugbyspan beoog om hul seisoen hierdie naweek op ’n hoë noot af te sluit wanneer hulle Paul Roos Gimnasium in die jaarlikse Interkole-kragmeting pak wat vanjaar in Bloemfontein beslis word.

Dit is die laaste wedstryd van die seisoen en die hoogtepunt van alles waarvoor die span gewerk het. Grey het weer ’n uitmuntende seisoen agter die rug, met sy enigste terugslae die nederlae teen die twee rugbyreuse van die Paarl: Paarl Gimnasium (43–31 in Bloemfontein) en Paarl Boishaai (25–10 in die Paarl).

Daardie wedstryde is egter water onderdeur die brug. Wat nou saak maak, is om die rekord reg te stel en die seisoen op ’n hoogtepunt te eindig. In 2024 was dit Paul Roos wat oorheers het en kon spog met ’n sege van 36–3 op die Markötter-stadion in Stellenbosch.

Grey se losskakel, Darius Erwee. Foto: Morgan Piek

Grey gaan die wedstryd met goeie momentum in ná ’n oortuigende oorwinning van 48–15 vroeër vandeesmaand oor sy broerskool, Grey High in Gqeberha.

Die hoofafrigter van Grey se eerstespan, Jannie Geldenhuys, het aan OFM Sport gesê die Grey-teen-Paul Roos-week is altyd iets besonders – en vanjaar is geen uitsondering nie.

“Die opwinding bou beslis op rondom die skool – jy kan regtig voel daar’s iets spesiaals in die lug,” sê Geldenhuys.


“Hierdie laaste wedstryd van die jaar is meer as net ’n game – dit is ’n oomblik wat die hele skool saam deel. Dit voel asof ons saam geskiedenis maak.

“Ons sien regtig daarna uit. Dit is ’n groot geleentheid vir die seuns wat hul laaste wedstryd vir Grey speel, en vir die jonger spelers om na vore te tree en reeds te begin gestalte gee aan volgende jaar se span.”

Geldenhuys het bygevoeg dat die span veral daarna uitsien om tuis in bekende toestande te speel – en hulle hoop op ’n vinnige wedstryd.

Eddie Mabena. Foto: Morgan Piek

“Om weer tuis te speel beteken die toestande sal droog wees, met vinnige velde waar die bal regtig kan beweeg. Paul Roos is gewoond aan die nat, modderige velde van Stellenbosch in Augustus, maar hier in Bloem is dit hard, droog en vinnig.

“Dit is altyd ’n groot stryd teen Paul Roos, en die mededinging maak dit net nóg meer opwindend. Die seuns is regtig opgewonde, en die hele skool gons. Dit is eintlik op die oomblik moeilik om almal op akademie te laat fokus – ons weet almal wat hierdie naweek beteken.”

Die kragmeting sal waarskynlik ietwat emosioneel wees vir albei skole weens die dood van die legendariese oud-Springboklosskakel en -heelagter Dawie Snyman. Snyman was veral bekend daarvoor dat hy in die 1980’s die Westelike Provinsie as breier vyf keer agtereenvolgens die Curriebeker omhoog laat hou het.  

Image

Dawie Snyman. Foto: SA Rugby

Snyman was in 1967 Grey Kollege se onderkaptein en het die Vrystaat twee jaar agtereenvolgens op die Cravenweek verteenwoordig. Hy het toe by Maties gaan studeer, en was in daardie tydperk ook Paul Roos se hulpafrigter. Snyman is Donderdag in die ouderdom van 76 oorlede.

Benewens die wedstryd tussen Grey en Paul Roos sal die Cheetahs en WP terselfdertyd ’n ent in die straat af in die Toyota-stadion sake uitspook, en die wedstryd sal vir die Streeptruie emosioneel wees.


Al is daar heelwat ander gebeure tydens die Interkole-naweek, is die eerstespankragmeting ongetwyfeld die hooftrekpleiser– en die gees loop hoog.

Saterdag se groot wedstryd tussen Grey en Paul Roos in Bloemfontein begin om 14:00.

OFM Sport/Morgan Piek cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.