On Now
Weekends 19:00 - 20:00
Nuut in Afrikaans OFM
Show Background
NEXT: 20:00 - 22:00 Sunday Night with OFM
Listen Live Streams

South Africa

‘Sy moed het hom sy lewe gekos’ – VF Plus

───   11:05 Sun, 07 Dec 2025

‘Sy moed het hom sy lewe gekos’ – VF Plus | News Article
Marius (Vlam) van der Merwe. Foto: X

Die VF Plus het sy skok en hartseer uitgespreek oor die skietdood van Marius (Vlam) van der Merwe, bekend as Getuie D, buite sy huis in Brakpan aan die Oos-Rand.

Van der Merwe, ’n voormalige Ekurhuleni-metropolisiebeampte (EMPD) en gerespekteerde gemeenskapsleier, is vermoor enkele dae ná sy getuienis voor die Madlanga-kommissie waar hy korrupsie en misdadige verbintenisse blootgelê het.

“Sy moed om die waarheid te praat, het hom sy lewe gekos,” sê Jaco Mulder van die VF Plus. “Ons eer hom as ’n held en ’n ware stryder teen misdaad.

“Van der Merwe het ’n deurslaggewende rol gespeel in  die bekamping van misdaad en onwettige mynbou, veral in Plastic City en hy was geliefd in sy gemeenskap.”

Opheffingswerk

“Sy passie om opheffingswerk in sy eie gemeenskap van Brakpan te doen was duidelik en sy heengaan is ’n swaar verlies vir sy familie en vir almal wat deur sy toewyding geraak is.”

Die VF Plus eis dat die moordenaars van fluitjieblasers soos Babita Deokaran, Cloete en Thomas Murray en nou ook Van der Merwe vasgetrek en vervolg word.

Sluipmoorde

“Hierdie sluipmoorde is berekende aanslae om mafiasindikate en misdadigers op ‘n hoë vlak te beskerm. Die VF Plus betuig sy innige meegevoel aan sy familie, vriende en die Brakpan-gemeenskap.  

“Mag hulle troos vind in die wete dat Marius as ’n held gesterf het, standvastig in sy stryd teen korrupsie en misdaad.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus dg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.