South Africa
Brand vernietig 10 busse by depot─── 11:03 Wed, 17 Dec 2025
Tien busse van die Buscor-vervoermaatskappy is heeltemal verwoes deur ’n brand, wat Woensdag (17/12) in die vroeë oggendure by die maatskappy se depot opBarberton, Mpumalanga, ontstaan het.
Die busdepot is langs die provinsiale hospitaal geleë. Nooddiensspanne was gou op die toneel en geen beserings is aangemeld nie.
Volgens ‘n polisieverklaring is dit nog onduidelik of die brand per ongeluk ontstaan het en of dit kwaadwillig gestig is. Die polisie op Barberton het met ’n geregtelike ondersoek begin om die oorsaak van die brand vas te stel.
Luidens ’n verslag het een van die busse aan die brand geslaan, en terwyl veiligheidswagte ondersoek ingestel en die hulp van die brandweer ontbied het, het nog nege busse ook vlam gevat.

Tien busse van die Buscor-vervoermaatskappy het in die nagtelike ure uitgebrand. Foto: Twitter
Thulasizwe Thomo, LUR vir openbare werke, paaie en vervoer, bevestig geen beserings of sterftes is in die voorval aangemeld is nie. Pendelaars word gemaan om kalm te bly.
Buscor het reeds reëlings getref vir vervangingsbusse om te verseker dat dienste voortduur.
Plaaslike media het foto’s en video’s gedeel wat die omvang van die skade toon.
Die polisie doen 'n beroep op enigiemand wat inligting in hierdie ondersoek het om Stop Misdaad te bel by 08600 10111 of inligting met die MySaps-app deur te gee. Alle inligting sal vertroulik behandel word, en informante kan kies om anoniem te bly.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus cvdw
