South Africa
Afrikaner al maande in VSA in aanhouding─── 11:00 Sun, 28 Dec 2025
'n Afrikaner wat na die VSA gevlieg het nadat pres. Donald Trump beweer het die land 'n veilige hawe vir mense soos hy sou wees, word al sedert sy aankoms in September in 'n immigrasiesentrum aangehou.
Benjamin Schoonwinkel (59) het in September van Johannesburg na die VSA gevlieg in die hoop dat hy, soos ander Afrikaners voor hom, vlugtelingstatus toegeken sal word. Met sy aankoms in Atlanta is hy egter in hegtenis geneem nadat hy gesê het hy soek asiel, berig Mediaite.com.
Hy is binne twee dae na 'n federale aanhoudingsentrum oorgeplaas en bly sedertdien daar.
'Het nooit verwag dit sou gebeur nie'
In 'n video-onderhoud met The New York Times sê hy “ek het nooit verwag dat dit sou gebeur nie".
Ongeveer 2 000 mense word by die Stewart-aanhoudingsentrum vir onwettige immigrante in Lumpkin, Georgia, aangehou. Schoonwinkel sê die feit dat hy wit is, het sy mede-aangehoudenes, waarvan die meeste van Latyns-Amerikaanse afkoms is, verwar.
“Hulle vra my almal: ‘Wat maak jy hier?’” sê hy.
Prokureur was onder die indruk hy is swart
Schoonwinkel sê sy prokureur, Marty Rosenbluth, was ook onder die indruk dat hy “swart” was. "Waarom anders sou hy in immigrasie-aanhouding wees? Dit het nooit by my opgekom dat hy 'n Afrikaner kon wees nie. Ek het gedink, hoe kan dit gebeur?"
Rosenbluth sê hy weet van Trump se oopdeurbeleid teenoor Afrikaners wat gegrond is op sy aanname dat wit Afrikaners slagoffers van “volksmoord" is en die regering beslag lê op hul grond.
Schoonwinkel se asielaansoek bevat bewyse dat hy die slagoffer van 'n aanval op sy persoon en plundering van sy eiendom in wat hy sê 'n rasgemotiveerde aanval verlede jaar was.
"Dit is die maklikste asielsaak om te wen, wat ek nog ooit gehad het," sê Rosenbluth. "Al wat ek hoef te doen is om al Trump se retoriek, en alles wat sy administrasie oor Suid-Afrika gesê het, aan te bied."
Die datum vir sy verhoor moet nog bepaal word.
