South Africa
Neem jou sambreel saam na jou Oujaarbraai─── 11:11 Wed, 31 Dec 2025
Suid-Afrikaners wat die aankoms van die nuwe jaar in die buitelug inwag, moet dalk sambrele byderhand hou, waarsku die Suid-Afrikaanse weerdiens.
Volgens die weerdiens kan wydverspreide reën en hewige donderstorms Woensdagaand vieringe oor groot dele van die land bedreig. Na verwagting sal weerstoestande op Oujaarsaand versleg terwyl swaar reënval, hael en sterk wind word in sentrale en oostelike streke van die land verwag word.
Volgens die weerdiens word “wydverspreide reënval verwag oor die sentrale en oostelike dele van die land met stortbuie en moontlike donderstorms in sommige gebiede”.

Foto ter illustrsie: iStock
Terselfdertyd sal die westelike streke van die land waarskynlik meestal droog bly. Die waarskuwing kom terwyl baie Suid-Afrikaners feestelikhede in die buitelug en vuurwerkvertonings beplan.
Die ergste weer word in dele van die Oos-Kaap verwag, waar die weerdiens ’n geel vlak 4-waarskuwing uitgereik het vir ernstige donderstorms. “Hierdie storms sal gepaard gaan met swaar stortbuie, stormsterkte winde, weerlig en hael.”
Na verwagting sal dit lei tot oorstromings en skade aan infrastruktuur en nedersettings in die OR Tambo- en Amathole-distrikte.

’n Storm oor Kroonstad. Foto: Storm Report SA
Die weerdiens het ook ’n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir verskeie ander provinsies, insluitend die suidelike dele van Noordwes, die oostelike Vrystaat en noordoostelike Noord-Kaap en waarsku teen “erge donderstorms vergesel van swaar reënbuie wat kan lei tot oorstromings, stormsterkte winde en groot hoeveelhede klein haelkorrels”. Motoriste word gewaarsku om versigtig te ry aangesien nat paaie en verminderde sigbaarheid tot ongelukke kan lei.
Met die oog op Donderdag en Vrydag (1/1 en 2/1), voorspel die diens “gedeeltelik bewolkte en koel tot warm toestande” oor die sentrale en oostelike dele van die land. “Geïsoleerde tot verspreide buie en donderbuie word vanaf die middag van Nuwejaarsdag af verwag,” sê die diens.
In teenstelling hiermee word verwag dat westelike streke “warm tot baie warm” toestande sal ervaar, tesame met uiterste brandgevaar in sommige gebiede.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus mvh

