South Africa
Krugersdorper herstel steeds ná hy van trap val─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:04 Fri, 11 Sep 2026
’n Man van Krugersdorp is steeds besig om te herstel nadat hy na bewering by ’n restaurant van ’n trap afgestamp is.
Jacques Roberts (29) is intussen terug by die werk as elektrisiën, maar verrig slegs ligte take terwyl hy verder herstel. Die beskuldigde, Tristan da Costa, se saak sal op 18 Oktober weer in die hof dien, wanneer die getuienis en bewyse na verwagting verder aangehoor en oorweeg sal word.
Roberts sê hy voel redelik goed onder omstandighede, maar is steeds nie soos hy was voor die voorval nie. Hy kan nog nie iets swaars optel nie en moet op 22 September weer die dokter besoek, wanneer verdere skanderings gedoen sal word. ’n Vorige skandering het getoon daar is steeds bloeding op sy brein.
Die trauma is egter steeds ’n uitdaging, veral wanneer mense hom vra wat gebeur het. “Mense in die dorp wil weet wat gebeur het.” Dit maak hom senuweeagtig en hy kan voel hoe sy liggaam daarop reageer. “Wanneer ek daaroor praat, trek my lyf ietwat en ek kan voel ek raak senuweeagtig. Dit is nie normaal vir my nie.”

Jacques Roberts. Foto verskaf
Hy ervaar ook ’n rukking van sy linkeroog, iets wat voor die voorval nooit gebeur het nie. Hy hoop dié simptoom sal mettertyd verdwyn. “Dit gaan eintlik baie beter.”
Sy nek bly egter ’n probleem en hy ontvang tans fisioterapie daarvoor. Skanderings het gewys sy nek is nie gebreek nie, maar hy ervaar nog styfheid en pyn, veral soggens wanneer hy opstaan. Dit verbeter egter deur die loop van die dag. Hy raak ook duiselig en voel soms van balans wanneer hy te veel loop.
Die voorval het op 1 Augustus by 6 on Heritage Square plaasgevind nadat Roberts glo, terwyl hy gedans het, ’n vrou gestamp het. Dit het tot ’n woordewisseling tussen hom en die vrou se kêrel gelei, waarna Roberts glo aan sy hemp gegryp en by die trap afgestamp is. Hy het met sy gesig eerste op die sementtrappe geval voordat hy verder afgerol het.
Hy het in die voorval onder meer bloeding op die brein, ’n skedelbreuk, ’n gebreekte kakebeen en verskeie frakture om sy oë en sinusse opgedoen. Hy was aanvanklik in die intensiewesorgeenheid en moes onder meer vir sy breinswelling en bloeding gemonitor word.
Da Costa het op 3 Augustus in die plaaslike landdroshhof verskyn en borgtog van R2 000 is aan hom toegestaan.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066487 1427.

