On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

South Africa

NDBV wil volstruisboere aankla van beweerde wreedheid

───   11:04 Thu, 26 Nov 2026

NDBV wil volstruisboere aankla van beweerde wreedheid | News Article
Die NDBV sal op grond van sy ondersoekbevindinge klagtes oor beweerde oortredings indien. Photo: www.worldanimalprotection.org.au

Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NDBV) gaan strafregtelike klagte teen verskeie volstruisboere in die Wes-Kaap indien nadat beeldmateriaal aan hom verskaf is waarin dit voorkom asof vere uit lewende volstruise gepluk word.

Internasionale dierebeskermingsorganisasies het teen einde September klagtes by die NDBV ingedien oor die behandeling van volstruise op verskeie plase. Die beeldmateriaal toon na bewering hoe volstruise onmenslik gehanteer word en hoe beseerde en siek voëls nie die nodige behandeling ontvang nie.

Inspekteurs van die NDBV se plaasdierbeskermingseenheid het die plase besoek wat in die klagtes geïdentifiseer is en verskeie probleme met die welsyn van die voëls vasgestel. Waarskuwings is gevolglik aan die betrokke boere uitgereik.

Beeldmateriaal toon hoe volstruise onmenslik behandel word. Foto: Skermgreep/World Animal Protection Australia

“Net soos alle ander diere ervaar volstruise pyn, vrees en lyding, en hulle word ingevolge die Dierebeskermingswet (Wet 71 van 1962) beskerm. Die beeldmateriaal wat ons ontvang het, is uiters ontstellend,” sê senior inspekteur Daryl White van die NDBV se plaasdierbeskermingseenheid.

White sê die gebrek aan skuiling vir die volstruise wek ook kommer, veral namate temperature styg. Hoewel volstruise in die natuur na ander gebiede kan beweeg om ongunstige weersomstandighede te ontduik kan voëls wat in kampe aangehou word, dit nie noodwendig doen nie.

Die NDBV het reeds met die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer vergader om sy kommer oor die behandeling van die voëls oor te dra. Die raad sê hy is meegedeel dat die volstruisbedryf sy eie ondersoek sal doen, maar het nog geen verdere terugvoering ontvang nie.

Wat sê die wet?

Artikel 2(1)(a) van die Dierebeskermingswet bepaal dat iemand wat ’n dier mishandel, verwaarloos, martel, vermink of op wrede wyse slaan, skop of bang maak, hom aan ’n misdryf skuldig maak. Volstruise word uitdruklik by die wet se omskrywing van diere ingesluit.

Artikel 2(1)(b) verbied ook die aanhouding van diere onder omstandighede wat “onnodige lyding” veroorsaak. Dit sluit in waar diere aangehou word op plekke waar daar onvoldoende ruimte, ventilasie, lig, beskerming of skuiling teen hitte, koue of ander weersomstandighede is.

Ingevolge artikel 2(1)(e) maak ’n diere-eienaar hom ook aan ’n misdryf skuldig indien hy versuim om die nodige veeartsenykundige of ander mediese behandeling te verskaf of te bekom vir ’n dier wat dit weens onder meer siekte of beserings benodig, indien hy daartoe in staat is.

Iemand wat ingevolge artikel 2(1) skuldig bevind word, kan ’n boete of tronkstraf van hoogstens 12 maande opgelê word. Tronkstraf sonder die keuse van ’n boete kan ook opgelê word.

Onaangekondigde inspeksies

Die NDBV sê sy inspekteurs sal onaangekondigde opvolgbesoeke aan die betrokke volstruisplase bring om vas te stel of die boere steeds aan die vereistes voldoen wat in die waarskuwings gestel is.

Die raad sê hy sal op grond van sy ondersoekbevindinge en die getuienis wat ontvang is, strafregtelike klagte oor beweerde oortredings van die Dierebeskermingswet indien.

Enigiemand met inligting oor die mishandeling van volstruise of ander plaasdiere kan dit by die NDBV aanmeld deur 011 907 3590 te bel of ’n e-pos aan nspca@nspca.co.za te stuur.

OFM Nuus s

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.m

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.