On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Yellow Door

Oor die liefde vir en van 'n dier

───   TANYA VAN BUUREN 13:39 Sat, 06 Jul 2013

Oor die liefde vir en van 'n dier | News Article

Sommige mense het moontlik nie 'n siel nie, meen Tanya van Buuren.

Guillermo Vargas Habacuc is ‘n naam waarmee sommige van ons bekend is. Ter wille van ‘n kunsprojek het hierdie kunstenaar in 2007 ‘n sterwende straathond aan ‘n tou vasgemaak en mense het in hul massas na hierdie skokkende tentoonstelling kom kyk. Teen die muur was daar in hondekos geskryf: “Jy is wat jy lees”.

Sommige het Habacuc as ‘n hartelose sadis wat genot uit sy kunswerk put bestempel. Ander het weer gedink hy het juis hiermee probeer bewys dat almal maar op een of ander manier toeskouers van ander se swaarkry en leed is. Ek kan natuurlik nie sê wat sy motiewe was nie en daar is onduidelikheid oor die hond se uiteindelike lot. Wat my egter die meeste van hierdie hele ding onstel het is dat Habacuc in ‘n mediaverklaring gesê het dat nie één van die toeskouers van hierdie uitstalling die hond probeer bevry het, probeer het om vir hom kos te gee of die polisie gebel het nie.

Hierdie herinner my aan sommige van die dieremishandelingsake wat in die afgelope dekade groot opslae in die Suid-Afrikaanse media gemaak het. Van ses babakatjies wie se pootjies afgekap is en muise wat lewend aan die brand gesteek is tot ‘n hond wat uitgesit moes word nadat hy byna twee maande lank sonder kos agter gelos is. En in baie van hierdie gevalle was daar omstanders. Omstanders wat niks gedoen het nie. As dit Habacuc se doel was om te bewys dat mense onverskillig is en soms hard kies om iets nie raak te sien nie, het hy uitstekend in sy doel geslaag.

Hoekom mishandel mense diere? Een van die redes wat dikwels aangevoer word is dat daar aanvaar word diere het nie siele nie en dus nie pyn kan beleef nie. Wat, op die ou einde van die dag, is nou regtig die onderskeiding tussen persoonlikheid, karakter, emosies en ’n siel? Jeremy Bentham sê hoeka die vraag behoort nie te wees of diere kan onderskei nie, ook nie of hulle kan praat nie, maar eerder oor of hulle intense pyn kan beleef.

Ek weet van honde wat kinders uit brandende huise gered het. Ek weet van katte wat luidkeels begin miaau het nadat ‘n kind in die swembad geval het en só verhoed het dat die kind verdrink. Ek weet dat honde en katte kan aanvoel wanneer hul eienaars ‘n moeilike dag gehad het of siek is. Ek weet van katte wat op instink honderde kilometers ver kan loop na hul eienaar nadat hulle om een of ander rede van mekaar geskei is. Ek weet van weird and wonderful vriendskappe tussen seekoeie en skilpaaie en tussen honde en kuikens en tussen hamsters en hase. Ek weet dat diere kan treur en kan lag, want honde lag met hulle sterte en olifante waak by die karkasse van hul kleintjies. Ek weet ook dat die gemiddelde hond ‘n nicer mens as die gemiddelde mens is. En ek weet dat daar min liefde so suiwer en onvoorwaardelik soos die liefde vir en van ‘n dier is.

Hoe kan ons van mense wat diere mishandel verwag om ander mense te respekteer? Daar is ongetwyfeld ‘n verband tussen dieremishandeling en ‘n algehele gebrek aan respek vir enige vorm van lewe. Behoort dit nie ’n wet te wees dat ons iemand wat ’n dier leed aandoen toesluit en die sleutel weggooi sodra hulle oortree nie?

Die storie wat by my aanhou spook is die een van ‘n man in Delmas wat jare gelede sy baba-poolhondjie se kop met ‘n kettingsaag tydens ‘n woedebui afgesaag het. Volgens veearts-verslae is die hondjie se kop van bó gesaag wat beteken hy kon alles tot sy dood gevoel het.

In gevalle soos hierdie betwyfel ek die aanwesigheid van ‘n siel by ‘n mens.

In die woorde van Mahatma Gandhi: “The greatness of a nation and its moral progress can be judged by the way its animals are treated”.

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.