
Op 8 Mei 2025 vier Afrikaans 100 jaar as amptelike taal. Afrikaans is een van die wêreld se jongste tale en die taal wat die derde meeste in Suid-Afrika gepraat wrd. Hoewel dit reeds vir honderde jare bestaan, het die Grondwet van 1909 bepaal dat Nederlands en Engels die amptelike tale van die land sou wees, maar in 1925 is Afrikaans aan Nederlands gelykgestel en is dit, naas Engels, as amptelike taal erken.
Wees deel van die viering van Afrikaans op OFM. Skakel in vanaf 06:00 tot 18:00 wanneer ons ’n reis deur die geskiedenis van taal onderneem, gesprekke met kunstenaar en kenners deel, en jou die kans gee om te wen. Maak seker jy mis nie ’n oomblik nie – ons wil nie nou al die aap uit die mou laat nie, bly ingeskakel vir meer!
Afrikaans is ’n lewende taal wat voortdurend verander en uitbrei. Dis ’n taal van kuns én wetenskap. Ons kan leer en werk in Afrikaans. Ons kuier en regeer in Afrikaans. Ons bid en droom in Afrikaans. Afrikaans is eg Suid-Afrikaans en eie aan Afrika. Dis ’n hartstaal wat ook na die uithoeke van die wêreld uitgedra is. Afrikaans verbind sy sprekers ongeag herkoms of kultuur. Ons Afrikaans klink dalk nie dieselfde nie, maar dit bly ons eie en ons koester die voorreg om ons in hierdie taal uit te druk.
Het jy geweet?
- Khoi-Afrikaans dateer reeds van 1595. Toe daar in 1652 ’n permanente halfwegstasie aan die Kaap opgerig is, was Khoi-Afrikaans reeds gevestig en dus die eerste periode in Afrikaans se geskiedenis.
- Meer as 95% van Afrikaans se woodeskat is van Nederlandse oorsprong.
- Die wortel van “Afrikaans” (die Afrikaanse taal) is “Afrikaan”, wat “inheemse bewoner van Afrika” beteken. Dié benaming van die Afrikaanse taal verwys na die taal se ontwikkeling op die Afrika-kontinent as ’n taal in eie reg.
- Afrikaans is die enigste Germaanse taal wat in Arabiese skrif getranskribeer is.
- Arnoldus Pannevis, ’n taalkundige Nederlander, wat ’n onderwyser aan De Gimnasium in Paarl met Nederlands as voertaal, was het in die 1800’s die taal ‘Afrikaans’ gedoop toe hy besef Kaaps-Hollands het nie meer genoeg ooreenkomste met Hollands om as ’n dialek beskou te word nie.
- Die eerste Afrikaanse woordelys is in 1844 gepubliseer, met die titel “Proeve van Kaapsch taaleigen”.
- Afrikaans is die 140ste grootste taal ter wêreld. Dit wil gedoen word, aangesien daar 7000 tale in die wêreld is!
- Daar is 24 miljoen mense wat Afrikaans kan verstaan – wat Afrikaans die enigste Suid-Afrikaanse taal maak wat internasionaal verstaan kan word! Dit word ook as vak aangebied by Amerikaanse, Belgiese, Nederlandse, Poolse en Russiese universiteite.
- ’n Derde van alle Suid-Afrikaners wat in die LSM groep 9-10 val praat Afrikaans en die Afrikaanse mark is verantwoordelik vir ’n vyfde (R376 miljard per jaar) van die totale spandering van Suid-Afrikaanse verbruikers.
- Afrikaans se uniekheid bestaan juis as gevolg van sy diverse invloede. Soos die woord “piesang” en “baadjie” wat weens Maleise invloed ontstaan het. “Gogga” het deur Khoi-Khoi invloed ontstaan. Woorde wat ’n Oosterse en Portugeuse invloed het, sluit in blatjang, bobotie, sosatie, makou en koejawel in. Khoi woorde is ook dikwels net vereenvoudig, woorde soos dagga, boegoe, abba, kamma, aitsa en eina.
- Die Afrikaanse Patriot was die eerste Afrikaanstalige koerant. Die eerste uitgawe het op 15 Januarie 1876 in die Paarl verskyn.
- Louis Henri Meurant het in 1861 nuwe deure vir Afrikaans geopen met die publikasie van sy boek in dié taal, Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar over het onderwerp van afscheiding tusschen de Oostelyke en Westelyke Provincie.
- Die eerste Afrikaanse kookboek is deur E.J. Dijkman, die dogter van 'n Engelse seekaptein, geskryf. Di Suid-Afrikaanse kook-, koek- en resepteboek het in 1891 verskyn. Ko ok en Geniet deur S.J.A. de Villiers het die eerste keer in 1951 verskyn en het sedertdien meer as 'n miljoen eksemplare verkoop.
- In 1904 verskyn Eugène Marais se ‘Winternag’ in Land en Volk en word geag as die eerste letterkundig betekenisvolle Afrikaanse gedig.
- Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (oorspronklik De Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst) is op 2 Julie 1909 in Bloemfontein gestig om vir die Nederlands-Afrikaanse taalgemeenskap 'n tuiste te skep om die ontwikkeling van die Nederlandse (insluitende die Afrikaanse) taal, letterkunde, kuns, geskiedenis en oudheidkunde in Suid-Afrika te bewaar en uit te bou.
- Die eerste MBA-graad – naas Harvard Universiteit – is in Afrikaans by die Universiteit van Pretoria aangebied.
- Verskeie klein en private uitsaaiers het reeds vanaf Julie 1924 in Kaapstad, Durban en Johannesburg in Engels en Afrikaans uitgesaai. Op 27 Oktober 1937 is die Afrikaanse Diens van die SAUK bekendgestel.
- Die eerste volledige vertaling van die Bybel in Afrikaans is in 1933 gepubliseer.
- In 1931 is die eerste Afrikaanse rolprente, Moedertjie en Sarie Marais, vrygestel. Sarie Marais, ’n musiekrolprent, was die eerste Afrikaanse film met ’n klankbaan, en Moedertjie, ’n drama, die eerste met dialoog. Barakat in 2021 is die eerste Moslem-film in Afrikaans.
- Die FAK-sangbundel, aanvanklik genoem die F.A.K.-volksangbundel vir Suid-Afrika, is 'n sangbundel wat Afrikaanse volksmusiek bevat en deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) uitgegee word. Die eerste weergawe het in 1937 sy verskyning gemaak en word beskou as die mees omvattende versameling Afrikaanse lirieke met bladmusiek.
- Marie Linde was die skuilnaam van die Afrikaanse skrywer en dramaturg Elise Bosman. Sy skryf die eerste Afrikaanse roman wat in Engels vertaal word, Onder bevoorregte mense, wat in 1925 die wenner is van ’n romanwedstryd van die uitgewer Van Schaik.
- In 1957 debuteer Adam Small met die digbundel Verse van die liefde en trek aandag met onder meer die digbundel Kitaar my kruis in 1962 en die toneelstuk Kanna hy kô hystoe in 1965. Prof. Small het in Kaaps geskryf en was ’n voorloper van ’n generasie bruin Afrikaanse digters wat protespoësie in die 1980’s gepubliseer het.
- Op 22 April 1966 het Des Lindberg geskiedenis gemaak toe hy die Top 20 in die 18de plek met “Die gezoem van die bye” gehaal het.
- Die eerste rugbyliedjie in Afrikaans was “Groen en goud” van The Bats, wat die Top 20 op 12 Julie 1968 gehaal het.
- Die eerste Afrikaanse hiphop-lied wat opgeneem is, is “Dallah Flet” deur Prophets of Da City in 1990. Afrikaanse hiphop was dus reeds lewenskragtig ’n paar dekades voor Jack Parow, HemelBesem en Die Antwoord. Our World (1990) (waarop “Dallah Flet” verskyn) is Suid-Afrika se eerste hiphop-album.
- In 1995 is die eerste nasionale Afrikaanse kunstefees, die KKNK, van 7 tot 13 April in Oudtshoorn gehou.
Bronne: Afrikaanse Taalraad, Voertaal, Afriforum, RSG, Wikipedia, Maroelamedia