On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

International

Weermaghoof plaas druk op Netanyahu oor gyselaarsooreenkoms

───   10:23 Mon, 25 Aug 2025

Weermaghoof plaas druk op Netanyahu oor gyselaarsooreenkoms | News Article
Groot verwoesting is reeds in Gasastad gesaai. Foto: X

Israel se veiligheidskabinet hou Dinsdag (26/8) ’n belangrike vergadering oor die jongste voorgestelde gyselaarsooreenkoms met Hamas, wat bemiddel is deur Egipte en Katar.

Druk neem binnelands toe vir die bereiking van ’n ooreenkoms. Hamas het glo die raamwerk reeds verlede week aanvaar. 

Die plan, gebaseer op ’n inisiatief in Junie deur die Amerikaanse gesant Steve Witkoff, behels ’n 60-dae-wapenstilstand waarin Hamas ongeveer die helfte van die oorblywende 50 gyselaars in twee fases sal vrylaat, gevolg deur onderhandelinge oor ’n blywende skietstilstand

Lt.genl. Ejal Zamir, stafhoof van die Israeliese Weermag, moedig die regering openlik aan om die voorgestelde ooreenkoms te aanvaar. Hy verklaar die weermag het sy operasionele doelwitte bereik en die vereiste omstandighede vir ’n ooreenkoms geskep. 

Lt.genl. Ejal Zamir (links) op vergadering met eerste minister Benjamin Netenyahu (middel). Foto: X

“Daar is ’n ooreenkoms op die tafel, ons moet dit aanvaar,” het Zamir volgens Channel 13 News op ’n besoek aan die Haifa-vlootbasis gesê. Hy het bygevoeg die besluit is nou in die hande van eerste minister Benjamin Netanyahu.

Zamir loof die weermag vir die sukses van sy operasie Gideon se Strydwaens in Gasa wat die militêre druk meegebring het wat die huidige geleentheid vir die vrylating van gyselaars moontlik maak. “Die weermag het die omstandighede vir ’n ooreenkoms geskep,” meen hy. 

Zamir herhaal opnuut sy teenkanting teen ’n volskaalse besetting van Gasa weens kommer oor die veiligheid van die gyselaars en die las wat dit op die Israeliese magte plaas.

Lt.genl. Ejal Zamir (regs) op sy besoek aan Haifa. Foto: X

Die openbare druk vir ’n ooreenkoms het die afgelope weke toegeneem. Honderdduisende mense het vroeër vandeesmaand aan massabetogings in Tel Aviv geneem en ’n einde aan die oorlog en die veilige terugkeer van die gyselaars geëis. 

Die Hostages and Missing Families Forum spreek sy steun vir Zamir se standpunt uit en sê hy het die eise van die meeste Israeli’s verwoord. Die groep beplan nog landwye betogings Dinsdag.

Ten spyte van toenemende oproepe vir diplomasie, handhaaf Netanyahu ’n onwrikbare standpunt. Hy dring daarop aan enige ooreenkoms moet die gelyktydige vrylating van alle gyselaars verseker. Sy regering gaan voort met die militêre veldtog in Gasa, met lugaanvalle en grondoperasies wat oor die naweek in Gasa-stad toegeneem het. 

Die offensief is daarop gemik om die hele stad onder Israeliese beheer te bring, ’n stap wat volgens ’n VN-skatting meer as ’n miljoen mense kan ontheem.

‘Verhongering, verarming en dood’

’n VN-ondersteunde inisiatief wat voedseltekorte monitor het onlangs verklaar daar heers nou hongersnood in Gasastad en gewaarsku meer as 500 000 mense word deur “verhongering, verarming en die dood” in die gesig gestaar. Hulporganisasies blameer Israeliese beperkings op noodlenigingstoegang, hoewel Israel die verslag as ’n “regstreekse leuen” verwerp het.

Die oorlog, wat nou sy derde jaar nader, is ontketen deur Hamas se aanval op Israel op 7 Oktober 2023, waarin ongeveer 1 200 mense dood en 251 gyselaar geneem is. Sedertdien het Israel se militêre optrede volgens die Hamas-beheerde Gasa-gesondheidsdepartement – wat deur die VN as betroubaar beskou word – meer as 62 000 Palestynse sterftes tot gevolg gehad.

Bronne: BBC, The Times of Israel

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.