National
Die Stem is die mooiste gebed: Steve Hofmeyr─── 10:41 Tue, 08 Jul 2014
Pretoria - Die sanger Steve Hofmeyr sê Die Stem is die “mooiste gebed oor 'n land, haar vreugde, haar trots en haar hoop en wanhoop – ooit.”
Hofmeyr het 'n inskrywing op sy Facebook-blad gemaak nadat hy die naweek Die Stem gesing het tydens die Innibosfees in Nelspruit.
Hofmeyr sê hy het 'n paar FAK-liedjies soos Suikerbos, die Oukraallied, Al lê die berge nog so blou en Jan Pierrewiet gesing voor hy met die eerste vers van Die Stem losgetrek het.
“Sonder aansporing het 45 000 op aandag gaan staan en saam gesing, so hard dat die hoendervleis nou nog op my uitslaan. Ek kry altyd 'n knop in my keel by ‘ons sal lewe, ons sal sterwe…’. Jy sal in die opname hoor hoe ek in daardie reëls my asem vang.”
Hofmeyr sê hy het gebars van trots. “Ek sal dit meer sing en ek vra dat die banvloek op ons heiligste tradisionele lied gelig word en dat almal vry mag wees om te sing wat hulle wil, waar hulle wil, solank dit nie haatspraak is of geweld verkondig nie.”
Hofmeyr sê hy is nie verbaas oor die enkele negatiewe reaksies wat die sing van Die Stem uitgelok het nie.
“Mense wat aanstoot neem vergeet dat Die Stem, soos ons praat, nog deel is van die offisiële volkslied. Hierdie mense neem klaarblyklik nie aanstoot in die dinge wat gebeur onder die nuwe vlag en volkslied nie, alles vanaf wanprestasie tot moord, verkragting, Gupta, Nkandla, gronddiefstal, aggressiewe Marxisme, ekonomiese rassebeleid en lae lewensverwagting. Daar is eintlik meer as genoeg rede om aanstoot te neem in die nuwe volkslied en vlag, tog doen ons nie.”
Hofmeyr sê diegene wat die sing van Die Stem kritiseer is “tjoepstil oor die president se haatspraak liedere soos Kill the boer en Umshini Wami, terwyl Die Stem nie een haatsprekende lettergreep bevat nie”. Hy sê Nkosi Sikelel’ iAfrika is 'n Afrikagebed, wat gewild is oor die hele kontinent. “‘n Mooi gebed, maar nie ons s’n nie.”
“Die Stem is ook 'n gebed, geskryf deur 'n Suid Afrikaner vir Suid Afrikaners, twee dekades voor Apartheid. Bygesê, ter versagting, ek kan Nkosi sing en die nuwe vlag salueer, veral as ons as Suid Afrikaners presteer, en ek doen steeds, maar moenie my voorskryf oor presies waaroor en wanneer ek trots moet voel nie.”
Hofmeyr het ook geskryf dat mense Die Stem moet sing vir die volgende redes:
• Want daar is nie EEN haatsprekende lettergreep in DIE STEM nie.
• Want KILL THE BOER en UMSHINI WAMI kan gelukkig nooit daarmee vergelyk word nie.
• Dis geskryf deur 'n Suid Afrikaner VIR Suid Afrika.
• Dis geskryf deur 'n Suid Afrikaner VIR Suid Afrika twee dekades vóór Apartheid.
• Dis die mooiste lied ooit oor Suid Afrika.
• Nuwe simbole sal ons eendag herinner aan diefstal, grondgryp, moord, verkragting, wanopvoeding, korrupsie & die swakste president in mense heugenis.
• Want jy kan en mag.
• Dit is steeds deel van die nuwe offisiële volkslied.
• Dis lied nr. 1 in die FAK, die kanon van Afrikaanse tradisionele liedjies.
• Dis die mooiste gebed oor ‘n land, haar vreugde, haar trots en haar hoop en wanhoop – ooit.
• Want hoendervleis is skaars.
• Want “ons sal lewe, ons sal sterwe” bring ‘n traan in die oog en 'n knop in die keel.
• Want niemand forseer jou nie.
• Want Neelsie (Langenhoven) was 'n genius.
• As jy vergeet het hoe dit voel om deel te wees van iets groots, magtig en heilig.
• Want hulle doen dit in Kanada, VSA, NZ, Australië, Dubai en Londen.
• Want dit grief die vyand, die jingo’s, die fassiste, die Kommies, die voorskrywers, die lefties en die Croucamps.
• Want as die laaste Afrikaanse universiteit en skool verdwyn, sal dit nog daar wees.
• Want dis wettig.
Maroela Media