On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Rugby

André Venter by verre die taaiste nog

───   MORGAN PIEK 13:44 Thu, 07 May 2020

André Venter by verre die taaiste nog | News Article
André Venter - Vrystaat Rugby

Die voormalige Springbok- en Vrystaat-flank, André Venter, word beskou as die taaiste rugbyspeler wat die provinsie nog opgelewer het.


Dit is waar dat die Vrystaat en die Cheetahs hoog geag word vir hul sjampanje-rugby en flair, maar dit is grootliks te danke aan die feit dat harde manne se bydrae aanskoulike spel moontlik gemaak het, veral voorlangs.

Dit is vanselfsprekend dat die voorspelers as die taai manne bestempel word, maar daar was heelwat agterlynspelers wat oor die jare ook hul stem dik gemaak het en in eie reg ook ysters was.

Dit kom nadat verskeie oudspelers, afrigters, bestuurders, administrateurs, joernaliste asook ondersteuners van die Vrystaat en die Cheetahs genader is om hul lys te deel van wie hulle reken die hardste toptienspelers is teen wie hulle gespeel het, wat hulle geslyp het, of wat hulle sien speel het.

Natuurlik was dit onmoontlik om te bepaal watter harde manne wat 100 jaar gelede gespeel het, die beste is, aangesien hulle lank nie meer met ons is nie. Die name wat egter aan Bloemfontein Courant deurgestuur is, sluit spelers in van die 1970's tot nou toe, maar dit is die ouer manne wat as die taaiste beskou word. Dit was baie interessant om te sien dat min van die huidige spelers genoem is.

Terwyl André Venter by verre deur die meeste rugby-entoesiaste genoem is, was wyle Springbok-Rugbywêreldbeker-wenner, Ruben Kruger, gemaklik in die tweede plek. Hy is gevolg deur nog 'n wêreldbekerwenner, Juan Smith. Kruger het in 1995 die Webb Ellis-trofee omhoog gehou, terwyl Smith in 2007 die Wêreldbeker gewen het.

As Springbok het Venter tussen 1996 en 2001 die groen-en-goud 66 keer oor sy kop getrek en nege keer agter die doellyn gaan kuier.

'n Oud-vriend van Venter en radiopersoonlikheid, Pieter Möller, het aan Bloemfontein Courant gesê dat die oud-Bok by verre die taaiste en fiksste van die lot was.

"André Venter was die enigste Vrystaatspeler wat belet was om ná die span se oefensessies verder te oefen.

"Hy het na die oefeninge saam met nog 'n speler, Bertie Heunis, van die Vrystaat-stadion af na Pentagonpark terug gedraf. So ver as wat hy gehardloop het, het hulle by bushaltes gestop en dan het André optrekke met een arm gedoen – so twintig optrekke, en dan hardloop hulle verder.

"Wanneer hy dan by die huis aankom, haal hy buitebande uit en oefen daarmee, of hy haal rekke uit en trek vir my teen die bulte uit. André was by verre die nommer-een taaiste en fiksste speler wat jy kon kry.

"Dit is seker ook hoekom hy so min seergekry het."

'n Oudspeler wat die vierde meeste stemme gekry het, is die voormalige Springbok-losskakel, Henry Honiball, wat ook die agterlynspeler was met die meeste stemme. Die Lem, soos hy bekend gestaan het, was 'n klipharde speler en het veral met sy verdediging beïndruk.

Die vleuel, Chris Badenhorst, is die agterlynspeler wat die tweede meeste stemme gekry het, met die oudkaptein, Helgard Muller, kort op sy hakke. Muller en Badenhorst is ook die twee spelers wat die meeste wedstryde nog vir die Vrystaat gespeel het.


@MorganPiek OFM Sport

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.