On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 Saturday Nights with OFM
Listen Live Streams

agri fokus

Swak paaie kortwiek landelike gemeenskappe

───   09:07 Mon, 31 May 2010

Swak paaie kortwiek landelike gemeenskappe | News Article

Agri SA -Mediaverklaring

 

 

Swak paaie kortwiek landelike gemeenskappe

 

 

“Die swak toestand van paaie is ‘n belangrike bydraende faktor wat maatskaplike en ekonomiese voorspoed in landelike Suid-Afrika kortwiek, terwyl dit beslis ook bydra tot die koste om sake te doen in ons land. Agri SA ondersteun dus ‘n aangewese padinfrastruktuur- en -onderhoudsfonds om die agterstand in padonderhoud en opgradering op provinsiale en plaaslike vlak te hanteer,” sê Thinus Ferreira, Voorsitter van Agri SA se Infrastruktuur Werkgroep.

 

Volgens Ferreira, is die padnetwerk die hartklop van ontwikkeling, veral in landelike gebiede, aangesien dit ‘n basiese, kritieke funksie vervul, naamlik om toegang en mobiliteit te verleen vir die uitvoering van ekonomiese en sosiale aktiwiteite. “Die provinsiale en landelike padnetwerk verkeer onder ernstige druk en gaan vinnig agteruit. Dit bedreig die logistiek en die veiligheid van padgebruikers, terwyl gemeenskappe se toegang tot geleenthede soos bywoning van skole, klinieke en ander noodsaaklike dienste beperk word,” sê hy.

 

Die redes hiervoor sluit in, die swaar verkeervolumes, veral skade wat veroorsaak word deur oorlaaide swaarvoertuie, ‘n verwaarloosde spoornetwerk, ‘n gebrek aan befondsing vir onderhoud en opgradering, asook swak vakmanskap. Baie paaie moet herbou word aangesien hul leeftyd verstryk het en hulle nou vergelyk met die swakste ter wêreld. Die gevolge vir die landbou is enorm en dit veroorsaak dat produkte beskadig word en laat by markte arriveer, asook ‘n toename in voertuig onderhoudskoste en weiering deur vervoerkontrakteurs om noodsaaklike dienste aan die landbousektor op sodanige paaie te bied.

 

Agri SA, met die hulp van sy provinsiale affiliasies, het ‘n opname gedoen om landelike paaie wat dringend onderhoud en opgradering benodig te identifiseer. ‘n Omvattende dokument oor die status van hierdie paaie is saamgestel en aan die Minister van Vervoer, mnr Ndebele, oorhandig, met ‘n versoek om die saak met hom te bespreek. Agri SA wag steeds op die Minister se antwoord.

 

“Ander owerheidsprioriteite het in die verlede ongelukkig die begrotingstoekennings wat vir onderhoud en opgradering van sodanige paaie bestem was in beslag geneem. Agri SA steun dus die voorstel om ‘n aangewese padinfrastruktuur- en onderhoudsfonds daar te stel om die padonderhoud en opgradering agterstand uit te wis,” sê Ferreira.

 

Dit is welbekend dat die landsekonomie teen ‘n koers van meer as 5% moet groei om die probleem van werkskepping effektief aan te spreek. “’n Goed funksionerende logistiese stelsel en spesifiek ‘n effektiewe landelike padnetwerk, is voorvereistes vir die sinvolle implementering van die land se landelike ontwikkelingstrategie. Versuim om die betrokke agterstande aan te spreek, verminder die moontlikheid om die nodige resultate te behaal, “ aldus Ferreira.

 

Uitgereik deur Agri SA, Direktoraat: Korporatiewe Skakeling


 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.