Agri Hour
Byeboerdery die moeite werd ondanks skerp angels, sê NK-byeboer─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 17 May 2021
‘n Suksesvolle byeboer uit die Keimoes-omgewing in die Noord-Kaap, Jana du Plessis, sê bye speel ‘n belangrike rol in voedselprodusering.
Du Plessis, wat reeds van kleins af belanggestel het om met bye te boer, het met OFM-nuus gesels oor hoe om ‘n byeboerdery te begin en wat om te verwag.
Sien onderstaande PODCAST
Sy deel dat haar pa ‘n lusernsaadprodusent was en het toe besef dat daar heuningbye betrokke moet wees vir die bestuiwing van blomme. Du Plessis sê hulp is ingeroep om byekaste in die lusernlande te plaas.
As gevolg hiervan, het saadproduksie toegeneem.
“Oor die algemeen het 'n mens bestuiwings nodig op enige produk wat jy plant, soos vrugte, groente en lusern… Ons as mense is afhanklink van die by, want as die by nie bestuiwings gaan doen op blommejies, vrugte en groente nie, het ons nie daagliks vrugte of groente op ons tafels nie,” sê Du Plessis.
Boere in die Noord-Kaap maak gebruik van die apis mellifera scutellata by, wat ook die 'killer bee' genoem word. Du Plessis beskryf hierdie by as ‘n hardwerkende by met ‘n baie skerp angel.
Byesiektes en ander bedreigings
Du Plessis sê bye kry ook soms siektes en infeksies soos American Foulbrood (AFB). Sy sê hierdie siekte tas die hele byekas aan, wat dan daartoe kan lei dat alles binne die kas vrek.
Nog ‘n bedreiging is die wasmot. Sy sê hierdie mot neem die byekaste oor wanneer die swerms te swak is. As dit gebeur, dan “trek die koningin met haar bye”.
“Ons het ook baie probleme met miere as gevolg van die baie reën wat ons gehad het, maar daar is oplossings vir die miere. Ons het ook die groen swaeltjie, ons noem hom die byevanger,” voeg sy by.
Du Plessis raai voornemende byeboere aan dat wanneer hulle hierdie tipe boerdery wil aanpak, moet hulle dissipline reg wees en moet hulle uithouvermoë hê. Daarmee saam verduidelik sy dat boere klein moet begin, soos met byvoorbeeld vyf of tien byekaste. “Op elke kas kan jy twee [heuning]supers sit. So, met twee supers kan jy 28kg heuning kry. As jy hierdie heuning verkoop kan jy sowat R1 700 maak. Begin klein, moet nie groot begin nie want dit is ‘n baie intensiewe passie wat jy gaan uitoefen,” verduidelik sy.
OFM-nuus
