On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   05:00 Thu, 25 Mar 2021

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article
FOTO: FRANCOIS JOUBERT

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Elsabé Richard met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.

Sien onderstaande PODCAST

In vandag se insetsel praat Laubscher oor sirkulêre ekonomieë - of dit doenbaar is en die impak daarvan.

“Tydens die harde grendeltyd was almal aangewese op verbruik omdat bewegings ingeperk was. Tot dan het die oproepe op die sirkulering van hulpbronne grootliks op dowe ore geval. Die mens het gedy in ‘n omgewing van “vat-maak-vermors” (Engels: “take-make-waste”). Die aanwending van natuurlike hulpbronne, klimaatverandering en les bes die koolstof-voetspoor van produkte, is wesenlike oorwegings en aksies wat daarmee verband hou, word al hoe deursigtiger ontleed en gerapporteer.

“Dit word ook ‘n populêre politieke speelbal, maar die feit is dat die aarde in sy huidige vorm en met bestaande kennis van benutting na raming nie voldoende vir die mensdom sal kan sorg nie. Die tweede been spreek dus die produktiwiteit en effektiwiteit van hulpbronaanwending aan met ‘n universele mantra: doen meer met minder.

“Hoe die hulpbronne ontsluit word, skep ruimte vir die toepassing van nuwe tegnologie en dit wat in vooruitsig gestel word, kan dalk ‘n bedreiging inhou vir veeboere. Die ekwivalent van vleis uit ‘n laboratorium is beskikbaar en braaivleis praatjies oor die kwaliteit van ‘n lekker vet tjoppie, is vir al hoe meer verbruikers nie meer ‘n voldoende motivering om te eet nie.

“Beduidende verminderde verbruik van vleis in saakmakende ekonomieë is ‘n realiteit en vleisprodusente fokus nou op die Afrika-mark. In hierdie opsig is daar nou al betroubare bewyse ten gunste van die intensifering van wildproduksie. Aan die nie-vleis kant is produktiwiteit-verhogende tegnologie soos GMO-saad alledaags, en droogte-bestande gene in mielies beperk voedselonsekerheid. 

“Die debat tussen veeboere en diegene wat die weiding soek vir graan en ander voedselproduksie, sal in felheid toeneem en slegs grondige argumente van die effektiwiteit van aanwending van skaars water vir produksie, ensovoorts, sal die debat kan swaai.  Veeboere wat dink dié veldtog is van verbygaande aard, sal ‘n betekenisvolle strategiese denkfout begaan. Landbou staar juis ernstige aantuigings in die gesig oor die feit dat die meeste vars water aangewend word vir besproeiing, maar is insgelyks ook ge-etiketeer as die grootste vermorser. Dit is van die argumente waarvoor nuwe direktiewe gesoek word ten opsigte van twee van die bene – vat en maak!

“Die mors deel het veral tydens die pandemie groter sigbaarheid gekry – kos, verbruiksartikels, ens. se gebruikslewe is noodgedwonge verleng. In plaas van om weg te gooi wanneer daar die eerste tekens is van verminderde verbruikswaarde, het die fokus nou daadwerklik verskuif na oorwegings om sulke artikels, kos ingesluit, vir langer te gebruik.

“Hierdie tendens was al duidelik voor die pandemie namate die vierde industriële revolusie vat gekry het, maar is nou verhaas met die hulp van die toepassing van kunsmatige intelligensie (KI). Goed moet eenvoudig langer hou en nuwe tegnologie, soos in die geval van sê televisie en slimfone, se rakleeftyd of effektiewe gebruikslewe is verleng. Grensgraad tegnologiese vernuwing is wel beskikbaar, maar dit verg al hoe meer aggressiewe bemarking om die verbruiker te oortuig dat die nuwe slimfoon werklik nodig is. Buitendien verg dit kopkrap om te besluit of die prys van bykans $30 000 regtig die moeite werd is vir so ‘n nuwe slimfoon.

“Op meer praktiese vlak word KI nou ingespan om die rakleeftyd van kos te verbeter en ook om die vermorsing wat vroeër as onvermydelik, maar dalk verkeerdelik, beskou is, vroegtydig te beperk. Die afvoer van vullis en die oneffektiewe bestuur van afvalterreine kan byvoorbeeld hoër prioriteit geniet. Daar moet vandaar teruggewerk word en die hersirkulering van herbruikbare materiaal is dringend nodig.  

“Enorme energie verliese is aan die orde. Afgesien van die spasie wat sulke onbestuurde vullishope opneem, skep dit ‘n yslike besoedelingsprobleem. Herwinning is nie meer net ‘n modewoord nie en dit is hoog tyd dat die heffing wat geplaas word op plastieksakke gevolg word om meer met minder te doen. Plastiekbesoedeling in riviere en die oseaan is bykans onoplosbaar.  Sekere lande hef al by die aankoopprys die geagte koste van herwinning. 

“Die rek van die gebruikslewe van wit goedere is ewe belangrik en tegnologiese ontwikkeling is daarop afgestem.  Die tempo waarteen 3D-drukwerk vastrapplek kry, is verstommend en plaas verwagtinge en voldoening op ‘n ander vlak. In die landbou is daar ‘n bewuste terugkeer na aspekte soos die herstel van grondvrugbaarheid. In plaas van om die grond te steriliseer voor aanplanting en om deur middel van chemie die verlangde opbrengste te probeer behaal, word daar nou gemik na minder chemie en natuurlike bemesting van diere.

“Beeste en skape bewei bewerkbare grond wat tussen gewasse roteer met urine en mis vir verbeterde grondvrugbaarheid en plantdigtheid, sodat chemiese onkruidbeheer bykans onnodig is. Die uitkoms is laer produksie per hektaar maar teen aansienlik minder koste en uiteindelike vermorsing,” sluit Laubscher af.



OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.