Agri Hour
‘Ons boer met wild om wild te bewaar’─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 30 Mar 2021
Edrich Badenhorst, ‘n wildsboer van Knapdaar Boerdery in die Noordwes, sê hulle is dankbaar vir die ondersteuning van die plaaslike én internasionale mark - veral ná streng Covid-19 regulasies.
Hy deel dat die wildbedryf verskeie uitdagings gedurende die Covid-19-pandemie ervaar het, en dat dinge nou meer positief begin lyk.
Sien onderstaande PODCAST
Badenhorst het in 2017 by sy pa aangesluit wat reeds in 2001 met wildsboerdery begin het. Die Knapdaar Boerdery is op drie plekke geleë, onder meer in die Delareyville- sowel as die Bray-distrik.
“Die hoogtepunt van ‘n wildboerdery is in die oggend as jy opstaan en jy loop by jou agterdeur uit, is jy in die natuur,” deel hy.
Badenhorst sê die wildbedryf is ook baie afhanklink van veilings en veral weens die Covid-19 pandemie kon daar geen veilings plaasvind nie, wat boere se inkomste belemmer het.
Nóg ‘n uitdaging, wat volgens Badenhorst verlede jaar die grootste skade aan die bedryf veroorsaak het, is die feit dat daar nie gejag kon word nie. Hy verduidelik dat, veral die internasionale mark, sowat R51 miljard bydra tot Suid-Afrika se BBP-syfers. “Daar was wel ons binnelandse jagte wat ons baie dankbaar voor is.” Hy sê dit het plaaslike wildboere weer ‘n finansiële hupstoot gegee.
Badenhorst maan opkomende wildsboere om gebruik te maak van die pryse vir wild in dié stadium. Hy raai boere aan om met goeie genetika diere te begin, “want ons almal teel terug jagmark toe om wel hierdie diere in die jagmark te gebruik.” Hy sê as boere goeie kwaliteit diere het, gaan hulle altyd goeie kwaliteit diere hê om te jag.
Daarmee saam sê hy dat die wildbedryf nou weer terugkeer na normaal as daar na veilings gekyk word. Daar vind ook nou meer jagtogte plaas van die internasionale sowel as plaaslike mark.
“Ons wil ook net baie dankie sê aan almal wat ons wildsboere ondersteun,” sluit Badenhorst af.
OFM-nuus
