On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agri Hour

Egpaar bobaas met bokkaas

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 07 Apr 2021

Egpaar bobaas met bokkaas | News Article
FOTO: FACEBOOK/BELNORI BOUTIQUE CHEESERY

Belnori Boutique Cheesery, wat in Bapsfontein in die Benoni-omgewing in Gauteng geleë is, spog met vele nasionale en internasionale pryse vir hulle kase.

Die wêreldbekende kaasmakers en eienaars, Rina Belcher en haar man Norman, wat hoofsaaklik bokkaas vervaardig, sê hulle gebruik die melk van Saanen-bokke. 

Sien onderstaande PODCAST

Belcher deel in ‘n onderhoud met Agri Gauteng dat die idee vir ‘n kaasery ontstaan het toe sy ‘n artikel in ‘n landboutydskrif gelees het. Dié artikel het gehandel oor 'n egpaar in die Kaap wat 'n klein bokkaas-onderneming bestuur het. Sy vertel verder dat hulle eers verskeie besigheidsidees oorweeg het, maar hierdie spesifieke idee het meer uitgestaan.

Sy sê kort nadat hulle hierdie besluit geneem het, het iemand in 'n naburige stad 'n kort kursus aangebied oor hoe om fetakaas van bokmelk te maak en hoe om na die bokke om te sien. Haar man het hierdie kursus bygewoon.

Belcher sê hulle het die besigheid met een bokram begin waarna hulle by die Landbounavorsingsraad (LNR) in Irene om hulp gevra het en ontdek het dat hulle vier bokooie te koop gehad het. Hulle het hierdie bokooie gekoop.

“Ons het opgeeïndig met eers vyf ooie en toe sewe, en so het dit aangegaan tot ons net oor die 200 gehad het,” vertel Belcher.

Sy het ook 'n kaaskursus bygewoon wat deur die LNR aangebied is en het daarin geslaag om 'n paar produkte te maak en dit op 'n plaaslike maandelikse mark te verkoop.

Sy deel verder dat die eerste kaas in 'n vlekvrye staalemmer en erde pot gemaak is. Dit het haar sowat sewe maande geneem om dit reg te kry om jogurt te maak en 12 maande om camembert te maak nadat sy die kaaskursus bygewoon het.

Die bokke word twee keer per dag gemelk, “dis presies dieselfde as ‘n beesmelkery, alles is net kleiner en jy kry minder melk.

“Die bokmelk is baie fyner, so, hoe jy kaas maak is effens anders. Jy gebruik dieselfde kulture en metode, maar jou temperature [moet] bietjie laer wees – en jy moet baie geduld hê. Dit is ‘n fantastiese produk en ek het van die uitdaging gehou,” sê Belcher.

Baie van die kaasproduksie het ná ure plaasgevind wanneer Belcher in die middae van die werk af gekom het. Sy deel dat sy daarvan hou om self die kaas te maak want “daar is ‘n kunstigheid en wetenskaplike aspek daaromtrent.”

Nadat die kudde vyf en sestig was, het Belcher die korporatiewe wêreld verlaat en moes hulle vinnig uitbrei. Teen hierdie tyd het hulle reeds produkte op 'n aantal markte verkoop.

Die produk-reeks het uitgebrei en hulle het nou ook ‘n winkel waar die publiek kan kom koffie drink en kyk hoe die kaas gemaak word.

“Dis lekker om mense hier te onthaal want hulle kom kyk waar die kase gemaak word en hulle ontmoet die bokke. Die fietsryers kom dou voordag hier aan en gesinne kom ontmoet mekaar hier. Dis vir my lekker, ons begin by die melk en ons eindig by die kaas hier op een perseel,” sê Belcher verder.

Van die pryse wat Belnori al verower het sluit in, onder andere, die Agri-Expo-toekenning vir ‘Beste Suid Afrikaanse Kaas’ by die 2018 World Cheese Awards in Bergen, Norweë.


 


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.