On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agri Hour

Meer polisie-taakspanne nodig in VS

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 14 Apr 2021

Meer polisie-taakspanne nodig in VS | News Article

Vrystaat Landbou (VL) versoek dat daar meer polisie-taakspanne in die Vrystaat saamgestel moet word om veral plaasaanvalle en georganiseerde veediefstal in die provinsie te ondersoek.


Sien onderstaande PODCAST

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, deel dat veediefstal ‘n algemene probleem in die provinsie is, maar voeg by dat sowat 14 dorpe geïdentifiseer is waar die voorkoms van veediefstalgevalle hoog is – veral langs die Lesotho-grens.

Hy deel ook dat die polisie-taakspan, wat ná die moord op Brendin Horner in die Bethlehem-beheerkamer se bedieningsgebied saamgestel is, gereeld vergader en dat terugvoer aan boerderygemeenskappe op ’n “need to know”-beginsel plaasvind.

Hierdie taakspan fokus hoofsaaklik op polisie-betrokkenheid en korrupsie in die georganiseerdheid van veediefstal.  

Le Roux sê boerderygemeenskappe is bekommered oor die gebrek aan kapasiteit binne die veediefstal-eenheid wat die area bedien. 

Die organisasie sê verder in ‘n verklaring dat dit herhaaldelik by die kantoor van die Vrystaatse LUR van Polisie, Paaie en Vervoer, Sam Mashinini, die Provinsiale Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), asook by verskeie forums op nasionale vlak gaan aanklop vir hulp ten opsigte van veediefstal-eenhede in die Vrystaat, en veral langs die Lesotho-grens. VL versoek dat genoegsame mannekrag, voertuie en toerusting voorsien word.

Daarmee saam voeg Tommie Esterhuyse, vise-president van VL, by dat die organisasie se memorandum met Mashinini, wat op 13 Oktober 2020 onderteken is, verder aandag moet geniet. Hy verduidelik dat die memorandum “versoek dat polisie-betrokkenheid en -korrupsie daadwerklik aandag moet geniet met die saamstel van taakspanne in die provinsie om veral plaasaanvalle en georganiseerdheid van veediefstal te ondersoek. Die versoek het gemanifesteer in die samestelling van een taakspan in die Bethlehem-area die afgelope ses maande.” 

“VL rig dus ’n dringende versoek aan die Vrystaatse LUR van Polisie, Paaie en Vervoer om sodanige werkswyse te vestig wat aan boerderygemeenskappe beskikbaar gestel kan word. Sodanige optrede sal daarop dui dat polisiekorrupsie in alle areas van die Vrystaat ernstig opgeneem word,” meen VL.



OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.