Agri Hour
VS sien styging in plaasaanvalle en –moorde tydens #Covid19-inperking─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 10 May 2021
Die feit dat die Vrystaat steeds ‘n toename in plaasaanvalle en –moorde tydens die nasionale Covid-19-inperking ervaar het, terwyl meer sigbaarheid van die polisie en wetstoepassing in plek was, is kommerwekkend.
Dit het aan die lig gekom toe dr. Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), die syfers vir plaasaanvalle en –moorde in die provinsie wat gedurende die afgelope vyf jaar aangemeld is, bekend gemaak het.
Sien onderstaande PODCAST
Die organisasie het uitgelig dat gedurende 1 April 2016 tot en met 31 Maart vanjaar 298 plaasaanvalle - wat 37 moorde insluit – in die provinsie plaasgevind het. Buys sê hierdie syfer verteenwoordig sowat 4% van die Vrystaat se boerdery-entiteite.
Sy voeg by dat 143 kommersiële en opkomende boere in dié tydperk aangeval is, waarvan 16 vermoor is. Verder is 126 werkers aangeval, waarvan 14 vermoor is.
Daar is ook 24 persone aangeval wat op plase en of kleinhoewes woonagtig was, waarvan 6 vermoor is.
Verder is sowel produsente as werkers in sewe insidente aangeval en in een insident is ’n produsent en werker albei vermoor.
Daarmee saam sê Buys dat van die 88 dorpe in die provinsie se landbougemeenskappe, 71 gedurende die vyf-jaar periode deur ‘n plaasaanval geraak is.
2021/21 finansiële jaar
‘n Toename van vyf moorde en 14 plaasaanvalle het gedurende die 2020/21 finansiële jaar plaasgevind in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
“Die getal plaasaanvalle en moorde is die hoogste in 'n periode van 5-jaar in die Vrystaat. Buys wys ook uit dat daar in 21 van die 73 plaasaanvalle/moorde gedurende 2020/21, tussen twee en vyf slagoffers aangeval/vermoor is wat vrouens, familielede en/of kinders ingesluit het. In die vyf-jaar periode is agttien slagoffers ouer as 80 jaar oud, terwyl 19 slagoffers onder die ouderdom van 19 jaar was en dus geag kinders te wees.
“In 52.46% van plaasaanvalle, is slagoffers geskiet of het ernstige nek- en hoofbeserings opgedoen deur 'n gemiddeld van drie aanvallers wat per insident [betrokke is]. Dit dui op die geweldige trauma wat families en hul gemeenskappe ervaar,” sê die organisasie verder in ‘n verklaring.
Suid-Afrika/Lesothogrens
Intussen sê Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, dat 70 van die plaasaanvalle en moorde onder 12 landbougemeenskappe plaasgevind het wat teen die Suid-Afrika/Lesothogrens geleë is.
Hy sê die situasie teen die grens bly kommerwekkend en is 'n groot bydraende faktor tot onveilige landbougemeenskappe.
OFM-nuus
