Agri Hour
Besluit oor NAMPO word oor minder as ‘n maand geneem─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 11 May 2021
Oor minder as ‘n maand behoort daar ‘n besluit geneem te word oor of vanjaar se NAMPO ALFA wel op Nampopark buite Bothaville in die Vrystaat sal plaasvind.
Dit terwyl ALFA-aanlyn 2021 reeds vroeër vandeesmaand aanlyn afgeskop het.
Sien onderstaande PODCAST
Die vergadering vind op 1 Junie plaas.
Albert Laubscher, organiseerder van ALFA 2021, sê weens dit wat die Covid-19-pandemie hulle in 2020 geleer het, kan 2021 nou beter beplan word. Hy sê die pandemie het ALFA gedwing om aan te pas en ALFA aanlyn 2020 is gebore.
“Ons het baie geleer in 2020 en met ’n paar klein aanpassings kan ons net verbeter. ’n Selfoontoepassing op Android én iOS gaan byvoorbeeld deelname aan ALFA 2021 aansienlik vergemaklik.
“Sommige borgskappe moet nog bevestig word en van die nuwe projekte en geleenthede is nog nie gefinaliseer nie. Die program sal op 1 Mei 2021 afskop en die projekte, kompetisies en webinare behoort teen 31 Augustus 2021 afgehandel te wees. Die volledige program en reëlings is reeds beskikbaar,” sê Laubscher in ‘n verklaring.
Hy deel verder dat ALFA vyf fokuspunte bevat, naamlik verhandeling, verbruikersfokus, wetenskaplike prestasie-evaluering, landboujeug en sosiale samesyn.
Daarmee saam voeg Laubscher by dat indien die land se coronavirus situasie normaliseer en Nampo/ALFA 2021 wel op Nampopark aangebied kan word, “sal die onderskeie projekte en kompetisies se wenners daar uitgestal word en hoogtepunte uit die webinare lewendig aangebied word.” Hy sê uitstallers sal weer die geleentheid kry om soos oudergewoonte dienste en produkte aan besoekers bekend te stel.
Uitstallers sal binnekort inligting oor besprekings, vloerplanne en koste ontvang, sou daar besluit word dat Nampo/ALFA 2021 weer in lewende lywe sal plaasvind, sê Laubscher.
Verder sal die jag- en buitelewe-ekspo vir die eerste keer deel vorm van vanjaar se NAMPO/ALFA. Laubscher sê dat hierdie ‘n wonderlike geleentheid sal wees vir veral boere wat betrokke is by jag, sowel as mense wat hou van kamp en buitelewe aktiwiteite.
Vir die ALFA-aanlyn program en vir meer inligting gaan na www.alfaexpo.com en www.nampoalfa.co.za of skakel Laubscher op 082 562 2188/albert@nampoalfa.co.za.
OFM-nuus
