Agri Hour
Stres by herkouers – simptome en nagevolge─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Thu, 13 May 2021
Dit is belangrik om na die welstand van diere om te sien.
Dit, omdat faktore soos stres ‘n negatiewe invloed op die dier sowel as die raklewe van vars vleisprodukte kan hê.
Sien onderstaande PODCAST
Dr. Johan Cloete, tegniese veearts by MSD Animal Health, verduidelik dat stres by herkouer diere soos bokke, beeste en skape ontstaan wanneer daar verandering in die dier se normale omgewing, waar hulle baie gemaklik is, plaasvind.
‘n Voorbeeld hiervan is wanneer diere van ‘n kamp na ‘n drukgang of hanteringsfasiliteit verskuif word vir inenting of om gedip te word.
Ander stressors is hitte en erge koue.
Simptome
Die uiterlike simptome sê Cloete sluit in dat diere wat in groepe geplaas word om byvoorbeeld vervoer te word, baie meer urine en mis afskei/uitskei. Hy sê dit gebeur tipes wanneer ‘n groep diere op ‘n trok gelaai word of in ‘n hanteringsfasiliteit bymekaar is.
‘n Ander simptoom is dat beeste bietjie speeksel afskei, maar nie soveel soos skape en bokke wanneer hulle stres ervaar nie. Boere kan ook kyk na die grote van die dier se pupille, sowel as of daar ook ligte dun slym by die bees se neus voorkom.
Cloete voeg verder by dat diere se gedrag ook verander, wat daartoe kan lei dat hulle aggressief teenoor die mens sowel as ander diere kan optree.
Nagevolge
“Stres se nagevolge wat ons erken en wat daar ook wetenskaplike bewyse voor bestaan, is lae streshantering en hoë streshantering,” verduidelik Cloete.
Hy sê lae streshantering behels dat die dier relatief rustig is.
Dit, terwyl hoë streshantering behels dat die dier baie hoë kortisoonvlakke en kortstondige adrenalienvlakke het.
“So, adrenalien wat afgeskei word, is ‘n veg-of-vlug-chemikalieë in die liggaam wat help vir die dier om te kan veg of vlug soos nodig – maar baie van hierdie adrenalien-vrystelling op ‘n gereelde basis is nie goed vir die dier se organe nie,” sê hy verder.
Dit gesê, hoë kortisoonvlakke aan die ander kant weens stresfaktore kan ‘n swakker immuunstelsel tot gevolg hê.
Bly ingeskakel op OFM-nuus se Agri-Uur weeksdae tussen 05:00 en 06:00 waar Cloete sal praat oor hoe boere stres by herkouers kan voorkom.
OFM-nuus
