Agri Hour
Hier is van jou hoof landboustories op OFM─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Fri, 14 May 2021
Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf. OFM-nuus se Elsabé Richard lig nou vandeesweek se hoofstories op OFM uit...
Sien onderstaande PODCAST
Verskeie faktore dra by tot die prys van aartappels. Willie Jacobs, hoof uitvoerende beampte van Aartappels SA, sê daar is tans ‘n opwaartse neiging in markpryse weens lae vooraadvlakke. Jacobs sê die somerreënval, wat gedurende Desember 2020 en Januarie 2021 voorgekom het, het gelei tot lae voorraadvlakke wat bygedra het tot relatiewe hoë pryse. Hy deel dat die Oos-Vrystaat op die oomblik die grootste produseerder van aartappels gedurende hierdie tyd van die seisoen is, “en hulle is besig om deur ‘n redelike swaar tydperk te gaan.”
Oor minder as ‘n maand behoort daar ‘n besluit geneem te word oor of vanjaar se NAMPO ALFA wel op Nampopark buite Bothaville in die Vrystaat sal plaasvind. Dit terwyl ALFA-aanlyn 2021 reeds vroeër vandeesmaand aanlyn afgeskop het. Albert Laubscher, organiseerder van ALFA 2021, sê die vergadering vind op 1 Junie plaas. Hy sê ook weens dit wat die Covid-19-pandemie hulle in 2020 geleer het, kan 2021 nou beter beplan word. Verder sal die jag- en buitelewe-ekspo vir die eerste keer deel vorm van vanjaar se NAMPO/ALFA. Laubscher sê dat hierdie ‘n wonderlike geleentheid sal wees vir veral boere wat betrokke is by jag, sowel as mense wat hou van kamp en buitelewe aktiwiteite.
Boere moet versigtig wees vir skade wat veroorsaak kan word deur intense koue in Junie en Julie vanjaar. Johan van den Berg, onafhanlike landbouweerkundige, sê koue kan skade aan permanente gewasse veroorsaak, veral aan jong bome, wat neutbome en jong druiwestokke, sowel as fynplante, insluit. Hy sê verder dat dit blyk asof ‘n sneeustelsel vanaf 22 Mei oor die Drakensberge gaan voorkom, dan behoort temperature heelwat te daal. As daar na reënvooruitsigte in die Noord-Kaap gekyk word, sê Van den Berg egter dat die einde van die reënseisoen reeds aangebreek het, maar dat daar 'n moontlikheid van ligte reën ontstaan.
EN
Ekonome en deskundiges het tydens die 2021 jaarlikse vleiskonferensie meestal positiewe verwikkelinge vir die jaar vir die vleisbedryf voorspel. Die Rooivleisprodusente-organisasie berig die deskundiges voorsien ‘n stewige verbruikersvraag en uitgebreide handelsgeleenthede teenoor krimpende produksie – ‘n resep vir hoër vleispryse. Hoewel baie restaurante in 2020 gesluit het, het die beesvleisbedryf die hoogste aanvraag in 30 jaar ervaar. Daar word verwag dat die beesvleisbedryf die tweede beste jaar in die geskiedenis sal ervaar in terme van beesvleisvraag. Die balans tussen vraag en aanbod behoort in produsente se guns te tel omdat beesvleisproduksie na raming ‘n plato gaan bereik. In die lig van toenemende globale vraag en ‘n krimpende voorsiening, behoort produsente stewige pryse te behaal.
OFM-nuus
