Agri Hour
Sensako en Syngenta samesmelting bring opwindende geleenthede─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Fri, 14 May 2021
Daar lê opwindende geleenthede op die horison vir Sensako en Syngenta nadat dié twee bekende landboumaatskappye sowat sewe maande gelede saamgesmelt het.
Kobus Lindeque, hoof van Syngenta-saad en direkteur van Sensako, sê boere kan uitsien na onder meer nuwe genetika en tegnologie.
Sien onderstaande PODCAST
Sensako dryf al vir meer as 60 jaar handel as ‘n saadmaatskappy in Suid-Afrika en was deur die jare reeds betrokke by verskeie gewasse, maar het die afgelope 10 tot 15 jaar op die wintergewas-saadmark gefokus.
Syngenta, aan die ander kant, is ‘n internasionale maatskappy en fokus op chemie in landbou in Suid-Afrika. “Syngenta word wêreldwyd erken as 'n gesiene maatskappy wat kragtige, sterk en innoverende basters, variëteite en biotegniese eienskappe bied, asook gewasbeskermingsopsies om in alle groeitoestande te pas.”
Lindeque beskryf die samesmelting as ‘n goeie geleentheid vir albei maatskappye. Dit, aangesien Sensako die nommer-een koringsaadmaatskappy in die land is en Syngenta ‘n wêreldwye groeiende saadmaatskappy is. Syngenta is ook die nommer een sonneblomsaad maatskappy ter wêreld en besit spesiale tegnologie in mielies waarby Suid-Afrikaanse mielieboere baat kan vind.
Lindeque sluit af deur te sê dat Sensako en Syngenta nou gaan kyk na hoe die genetika in Suid-Afrika aangepas kan word. Daarmee saam wil die maatkappye verseker dat die regte produkte vir klein sowel as groot boere in die mark beskikbaar is. “So, ons wye toekoms-doel is: ontwikkel die genetika, kry die regte mense, vestig die maatskappy en begin vir die boere vertel wat na hulle kant toe kom.”
OFM-nuus
