Agri Hour
2021/22 graanoeste lyk goed ten spyte van uitdagings─── ELSABÉ RICHARD 11:00 Mon, 17 May 2021
Die 2021/22-seisoen se graanoeste lyk oor die algemeen baie goed, met ‘n verwagte mielieproduksie van meer as 16 miljoen ton.
Sien onderstaande PODCAST
OFM-landboujoernalis, Elsabe Richard, vind meer uit by Luan van der Walt, ekonoom by Graan SA…
Luan hoe lyk vanjaar se graanoeste?
"As ons kyk na die seisoen was dit ‘n baie goeie en geseënde seisoen. Ons het goeie oeste op die lande in die algemeen in meeste van die gewasse. As ons kyk na mielies dan het ons volgens die skatting die tweede grootste produksie nog in die geskiedenis van Suid-Afrika. Die Nasionale Oesskattingskomitee se derde produksieskatting vir die mielie-oes is dat dit net so oor die 16 miljoen ton behoort te wees.
"As ons kyk na twee ander gewasse, sien ons die sojabone [se oes] word ook op ‘n rekordgetal geskat, 1.79 miljoen ton. Dit is die grootste sojaboon-oesskatting wat ons nog gehad het.
"Die sonneblom-aanplanting was ‘n bietjie laer vanjaar. Die opbrengs vir sonneblom lyk nie sleg nie, maar die oppervlakte is laer, so die oes word op 696 000 ton geskat."
Wat is van die grootste uitdagings wat graanprodusente hierdie siesoen ervaar het?
"Een van die groot uitdagings wat hulle beleef het, was oornat toestande.
"Aanvanklik in die seisoen het produsente in Mpumalanga en Oos-Vrystaat gesukkel met toestande wat ‘n bietjie te droog was, maar toe het dit beter begin lyk. Die res van die seisoen is toe gekenmerk deur baie reën, veral in die Vrystaat en Noordwes provinsies was daar baie skade was."
Watter gebiede in Suid-Afrika verskaf gewoonlik die grootste oeste?
"In terme van mielies – is die Vrystaat ons grootste mielie-produserende provinsie in die land. Dit is weer hierdie jaar die geval. Die tweede grootste produserende provinsie is Mpumalanga, met so 3.7 miljoen ton mielies, en dan Noordwes wat die derde grootste produserende provinsie is met so amper 2.7 miljoen ton mielies. Dit bly maar die drie grootste produsente met olie-sade."
Hoe het Covid-19 die graanbedryf geraak?
"Covid-19 het ‘n redelike wye impak gehad op al die verskillende sektore, maar die landboubedryf is meestal positief beïnvloed. Daar was ‘n paar uitdagings, maar die landbou-omgewing het grootliks ‘n goeie jaar gehad en die ekonomie het nog steeds gegroei. Daarby was dit een van die min sektore wat groei getoon het. So, ek dink die landbousektor was vir die grootste gedeelte van die jaar ‘n steunpilaar vir die ekonomie tydens dié onseker tye.
"Aanvanklik met die begin van Covid-19 en die wêreldwye grendeltydperk, het kommoditeitspryse onder druk gekom, maar dit het vandaar weer begin herstel.
"Ons het veral in Suid-Afrika die afgelope twee jaar baie groot spronge gesien in terme van wit mielies wat vir menslike voedseldoeleindes gebruik word. Wat baie positief is, is om te kan sê Suid-Afrika het die vermoë om wit mielies te produseer wat ‘n stapelvoedsel vir groot gedeeltes van die Suid-Afrikaanse bevolking is.
“So, ons weet Covid-19 het die koopkrag van ‘n groot gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking onder geweldige druk geplaas, mense is armer en dan begin hulle terugbeweeg na meer stysel-gebaseerde diëte en daar het ons veral ‘n groot sprong gesien in die mielieverbruik.”
OFM-nuus
