Agri Hour
Theo Vorster gesels oor landbouvooruitsigte, minimumloon en onteiening van grond─── ELSABÉ RICHARD 11:00 Thu, 20 May 2021
Onderwerpe soos vanjaar se mielie-oes, die nuwe minimumloon vir plaaswerkers en onteiening van grond sonder vergoeding het onder die loep gekom toe OFM-nuus se Elsabé Richard met Theo Vorster, hoof uitvoerende beampte van Galileo Capital, gesels het.
Vorster voorsien dat die Rand-waarde van hierdie oes heelwat sterker gaan wees.
Sien onderstaande PODCAST
Vorster sê die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) skat vir hierdie seisoen, in terme van die totale graanoes, sowat 16,1 miljoen ton. Hy benadruk dat hierdie oes die tweede grootste oes op rekord sal wees en voeg ook by dat pryse met meer as 20% op is as dit met jaar-op-jaar vergelyk word. Dit beteken dan dat die Rand-waarde besonders sterk gaan wees, wat goeie nuus vir mielieboere is.
Wat die bekostigbaarheid van die nuwe minimunloon vir plaaswerkers betref, sê Vorster dat alle boere se geldsake nie dieselfde is nie. “Daar is beduidende skaalverskille tussen boere, en beduidende verskille in terme van hulle kapitaalstruktuur.
“Die een persoon boer [byvoorbeeld] met ‘n klomp skuld, en ‘n ander persoon boer bykans met geen skuld nie. So, beide van hulle het ‘n groot impak… [Beskotigbaarheid] gaan afhang van hoe lyk die boer se samestelling en hoe lyk sy verhouding tussen meganisasie en arbeid op die plaas. Maar daar is van die boere wat gaan swaarder trek as ander," verduidelik hy.
Vorster voeg by dat dit lyk asof die land wegbeweeg van die onsekerheid rondom die gronddebat en dat dit nou begin rigting kry. “Ek bly by my vorige standpunt, as jy kommersieel op jou grond boer… en jy’s ‘n bate vir die gemeenskap en ‘n aktiewe kommersiële boer, dan is hierdie hele grondonteiening sonder vergoeding debat nie werklik op jou van toepassing nie.”
Met dit gesê, moedig hy boere aan om te fokus op hulle boerdery en die winsgewendheid daarvan.
OFM-nuus
