Agri Hour
Hier is van jou hoof landboustories op OFM─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Fri, 21 May 2021
Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf. OFM-nuus se Elsabé Richard lig nou vandeesweek se hoofstories op OFM uit...
Sien onderstaande PODCAST
Landbou-organisasies in die Vrystaat en Noord-Kaap versoek die publiek om sprinkaanswerms aan te meld. Wind het swerms gedurende die naweek van die Noord-Kaap oor na die Wes-Vrystaat gewaai. Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), sê boere in die Hertzogville- en Boshof-omgewing in die Wes-Vrystaat is die afgelope naweek begroet deur 'n donker sprinkaanwolk toe 'n groot swerm van die Noord-Kaap gemigreer het. Hy het in gesprek getree met die hoof van die plaaslike Landboudepartement, sowel as die bestuurder van Rampbestuur in die Vrystaat waarna daar bevestig is dat plaaslike leiers van die sprinkaanbeheerspan sal help aangesien die bestryding van migrerende plae onder die departement val. Intussen deel Danie Jacobs, voorsitter van Agri Noord-Kaap se omgewingsake-komitee, dat hulle nie meer op die oomblik voetgangers spuit nie. Hy sê dorpe waar daar swerms aangemeld is, sluit in Askham, Kuruman en Warrenton. Jacobs voeg by dat die sprinkane migreer na warmer gebiede en sê hy skat nog so 24 dae voordat hulle vrek, aangesien hulle na die Vrystaat migreer, wat gewoonlik baie kouer is as die Noord-Kaap gedurende die winter.
Die toekoms van beesvleis is tans onder bespreking en het selfs politieke debatte tot gevolg. Dr. Frikkie Maré, landbou-ekonoom van die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê daar word selfs in Amerika “meat-free Mondays” voorgestel. Maré deel dat natuurlike weiding steeds tot gevolg het dat vleis geproduseer word, maar die teendeel is ook waar. Hy sê in Suid-Afrika sal daar vinnig gekyk moet word na diversifikasie en hoe hierdie uitdagings aangespreek gaan word in die toekoms.
‘n Boer van Standerton in Mpumalanga wat in Maart vermis geraak het, se oorskot is in ‘n sloot langs ‘n pad naby Vrede in die Vrystaat gevind. Die SABC berig die 54-jarige Themba Vilakazi van die plaas Vlakfontein op die Secunda-pad het vermis geraak nadat hy ‘n oproep ontvang het van iemand wat hom gevra het om na die polisiestasie op die dorp te kom. Hy het die plaas in sy bakkie verlaat en is nooit weer gesien nie. Die polisie het intussen twee mans in Standerton in hegtenis geneem. Een van die verdagtes het van Vilakazi se besittings by hom gehad. Die ander verdagte het die polisie gelei na die toneel waar hulle Vilakazi gekry het. Hulle sal na verwagting vandag in die Standertonse Landdroshof verskyn. Vilakazi se wit Toyota Hilux-bakkie met ‘n Mpumalanga-registrasienommer is steeds nie opgespoor nie.
EN
Covid-19 het ‘n redelike wye impak gehad op al die verskillende sektore, maar die landboubedryf is meestal positief beïnvloed. Dit is volgens Luan van der Walt, ekonoom by Graan SA. Hy sê daar was ‘n paar uitdagings, maar die landbou-omgewing het grootliks ‘n goeie jaar gehad en die ekonomie het nog steeds gegroei. Daarby was dit een van die min sektore wat groei getoon het. Hy sê verder hy weet Covid-19 het die koopkrag van ‘n groot gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking onder geweldige druk geplaas. Mense is armer en dan begin hulle terugbeweeg na meer stysel-gebaseerde diëte en daar het ons veral ‘n groot sprong gesien in die mielieverbruik.
OFM-nuus
