Agri Hour
Hier is van jou hoof landboustories op OFM─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Fri, 28 May 2021
Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf. OFM-nuus se Elsabé Richard lig nou die hoofstories op OFM vandeesweek uit...
Sien onderstaande PODCAST
Verskeie landbou-organisasies het hulle kommer uitgespreek oor die wetswysiging vir vuurwapeneienaars. Dit volg nadat daar nuwe voorgestelde wysigings op Vrydag 21 Mei in die Staatskoerant gepubliseer is rakende die Vuurwapenbeheerwet. Die wysigings behels onder meer dat die besit van vuurwapens vir selfverdediging verwyder word. Agri SA sê dat indien die voorstel oor selfverdediging deurgevoer word, is dit veral die boerderygemeenskap wat nadelig daardeur geraak sal word omdat hulle in afgeleë gebiede woonagtig is - ver van ’n naaste polisiestasie. Willem de Chavonnes Vrugt, president van Agri Noordwes, sê die organisasie stem saam met Agri SA en voeg by dat die boerderygemeenskap reeds kwesbaar is. Daarmee saam het Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sy kommer hieroor uitgespreek en gesê indien die voorgestelde wysiging aanvaar word, sal dit beteken dat geen individu voortaan 'n handwapen sal kan lisensieer met selfverdediging die motivering nie. Intussen voeg Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, by dat die organisasie eersdaags 'n veldtog van stapel sal stuur om die voorgestelde wetswysigings op die Vuurwapenbeheerwet teen te staan.
Sowat 7 000 skape is sonder weiding gelaat toe bykans 30 000 hektaar veld Donderdag 20 Mei in die Boshof/Dealesville-omgewing tydens ‘n wegholveldbrand verwoes is. Talle stuks vee en wild is ook doodgebrand. Luidens Vrystaat Landbou se dr. Jack Armour het sterk wind die beheer van die brand bemoeilik en is dit teen ongeveer 8-uur Donderdagaand uiteindelik gestop. Armour bevestig verder dat Vrystaat Landbou, in samewerking met Sernick-voere, 30 ton voerpille beskikbaar gaan stel om onmiddellike verligting te bring. Enigiemand wat graag skenkings wil doen, kan Vrystaat Landbou se webblad besoek vir meer inligting.
EN
Edward-John Hill, ook bekend as Bean, wat 2 200 km op sy kajak op die Oranjerivier vanaf Lesotho tot in Namibië anngepak het vir onder meer droogtehulp, het vandeesweek sy rit voltooi. Hy het sy reis op die rivier op 1 April in Lesotho begin en moes vroeër vandeesmaand alles stop nadat stormsterk-winde daartoe gelei het dat hy sy kajak en toerusting verloor het. Hy het by sy huis in Langebaan in die Wes-Kaap aangesterk en weer die rit aangepak. Ten spyte van talle uitdagings het hy sy bestemming bereik en almal wat hom ondersteun het, bedank.
OFM-nuus
