Agri Hour
#Sprinkaanplaag: VL dankbaar vir koue─── 05:30 Wed, 02 Jun 2021
Die kouefront wat in die Vrystaat en ander dele van die land ervaar word, is voordelig vir boere in die provinsie wat deur sprinkaanplae geteister word.
Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, sê die koue kan help om te voorkom dat die sprinkane eiers lê.
Sien onderstaande PODCAST
Wilken sê die kouefront in die Vrystaat het geen negatiewe impak op boerderybedrywighede nie ondanks aanduidings van uiters koue temperature.
Verder sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens se voorspeller, Kumsa Masizana, aan OFM-nuus dat maksimum temperature tussen 14 en 16 grade Celsius vandeesweek in dele van die provinsie verwag kan word.
Wilken voeg by dat die kouefront nie 'n beduidende negatiewe impak op boere het nie en help om sprinkane uit te roei en te voorkom dat hulle eiers lê. Hy sê dit het ‘n sekere uitwerking op diere, veral op die toestand van beeste wat in 'n mate agteruitgaan as gevolg van die koue.
Een bestaande bekommernis is die hoë gras wat brande kan aanvuur, veral met die brandseisoen wat voorlê. Ongeag daarvan, gaan dit tans goed in die provinsie se landbousektor, sê Wilken.
Een van die hoofoorsake van veldbrande is mense. Hy sê meeste vure wat aangesteek word, word nie deeglik en behoorlik geblus nie. Sigaretstompies wat uit motors gegooi word, asook onlangse betogings, het ’n groot rol gespeel in die ontsaan van veldbrande.
Wilken sê die koue wat laat gekom het, was ook voordelig vir die boere wat hulle sonneblomme laat aangeplant het. Dit het gehelp dat meer sonneblomme voor die ergste koue kon ryp word. In die algemeen lyk oeste ook belowend en boere kry goeie pryse. Sonneblomme en sojabone het ook goed gedoen, sê hy.
OFM-nuus/Blaine Jones
