Agri Hour
#Fire: Dit is nie nou die tyd om voorbrande te maak nie, waarsku weerkundige─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 23 Jun 2021
Sterk winde gaan gewoonlik gepaard met kouefronte en daarom moet boere voorbrande vermy.
Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê die kanse dat veldbrande ontstaan, is veral nou baie hoog weens ‘n oormaat brandmateriaal ná goeie reën aan die begin van die jaar.
Sien onderstaande PODCAST
Van den Berg waarsku dat daar oor die volgende paar dae baie sterk winde gaan voorkom en sê brandgevare gaan nog vir die volgende maande ontstaan weens baie brandmateriaal soos bosse en gras wat nou doodgeryp het.
“Selfs al begin dit reën, is dit gevaarliker want dan steek die weerlig die veld aan die brand. Boere moet baie versigtig wees," sê hy.
Van den Berg sê in hierdie stadium van die winterseisoen is daar kouefronte wat oor die Suidwes-Kaap inbeweeg wat oor die volgende paar dae reën oor daardie gebied sal veroorsaak.
Inwoners kan ook verwag dat baie koue toestande oor die naweek sal voorkom, met verwagte minimum temperature van minus vyf grade Celcius oor veral die sentrale, suidelike en oostelike dele van die Vrystaat sowel as die suidoostelike dele van die Noord-Kaap, wat Hopetown insluit.
“So, dit lyk asof hierdie volgende week die koudste week gaan word vir hierdie jaar tot op hede. Ons weet ons het aan die begin van Junie redelike koue toestande gehad, maar dit lyk of hierdie [week] kouer as dit gaan word,” sê Van den Berg.
Hy deel verder dat weervoorspellings toon dat die hele Julie-maand deur baie lae temperature gekenmerk gaan word.
Hy maan boere om plante en diere teen die koue te beskerm aangesien baie koue nagtemperature voorlê.
OFM-nuus
