Agri Hour
Naspeurbaarheidstelsel noodsaaklik om dieresiektes hok te slaan─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 28 Jun 2021
Die Rooivleisprodusente-organisasie, oftewel RPO, in die Noord-Kaap het vandeesmaand sy jaarkongres gehou.
Dirk Kraphol, Bedryfsbestuurder van die RPO, sê die kongres het hoofsaaklik gefokus op die belangrikheid van naspeurbaarheid in die rooivleisbedryf.
Sien onderstaande PODCAST
Krapohl sê die RPO sal hande met die Departement van Landbou vat om te verseker dat daar ‘n naspeurbaarheidstelsel in die land gevestig word. Dit, soos Suid-Afrika die enigste land in Afrika is sonder ‘n behoorlike naspeurbaarheidstelsel. Naspeurbaarheid in diereproduksie is belangrik vir die landbou as ‘n geheel.
Hy verduidelik dat naspeurbaarheid verwys na ‘n doeltreffende identifikasie stelsel waar ‘n dier van die plaas van oorsprong tot aan die einde van die waardeketting geëien kan word.
Suid-Afrika staar verskeie uitdagings met betrekking tot naspeurbaarheid in die gesig soos om sy status as bek-en-klouseer-vrye sone terug te kry en te behou.
Die toenemende plaaslike en internasionale vraag na diereprodukte en geleenthede om diereprodukte uit te voer, het talle lande se veebedrywe aangemoedig om in die ontwikkeling van ‘n naspeurbaarheidstelsel te belê.
Krapohl deel dat Suid-Afrika nie agterweë gebly het nie. ‘n Konsepdokument is onlangs bekend gemaak sodat vee beter geïdentifiseer en nagespeur kan word.
“Volgens my mening sou bek-en-klouseer nie so ‘n groot probleem gewees het indien Suid-Afrika hierdie stelsel in plek gehad het nie,” sê hy.
Krapohl deel verder dat die voordele van naspeurbaarheid in drie dele gedeel kan word: die oorsprong van die produk is bekend, die kwaliteitskontrole verbeter en daar is ‘n verlaagde risiko vir die gevolge van produkte wat nie aan die verbruikerstandaarde voldoen nie.
In Suid-Afrika is die naspeurbaarheid van rooivleis nie so eenvoudig nie, sê Krapohl.
Hy sê volgens die diere-identifikasiewet moet alle groot vee-eienaars ‘n geregistreerde brandmerk vir hulle diere hê. Dit beteken dat net een persoon die eienaar van hierdie spesifieke brandmerk sal wees.
Verder sê Krapohl dat dit oor die algemeen goed met die rooivleisbedryf gaan en dat produsente goeie pryse vir hulle diere op die stadium kry, “maar die onlangse bek-en-klouseer uitbraak in KwaZulu-Natal het weer ‘n demper geplaas op die land se uitvoer.”
OFM-nuus
